Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs verskuif fokus na CB-reeks
Die slot Carl Wegner sal die Cheetahs Saterdag aanvoer. Foto: Gallo Images

Die Cheetahs beskou hul laaste Superrugy Unlocked-wedstryd teen Griekwas Saterdag in Bloemfontein as die begin van hul Curriebeker-veldtog.

“Ons het gepraat oor waar ons nou op die punteleer lê en wat nog vir ons voorlê. Ons het die wedstryd teen Griekwas bygetel by die ses wedstryde (in die Curriebeker-reeks) wat oor is en gesê ons Curriebeker-reeks begin nou.

“Die punte word oorgedra en dis vir ons belangrik om met vyf ligapunte te wen Saterdag. Die voorbereiding en die hele ingesteldheid het daaroor gegaan – ons wil graag op 17 punte wees as die eerste ronde (Unlocked-reeks) verby is,” sê die Cheetahs se afrigter, Hawies Fourie.

“In die tweede ronde (Curriebeker-reeks) het ons drie tuiswedstryde teen die vier Superrugby-spanne, terwyl ons weg teen Griekwas en die Pumas speel. Ons voel ons kan goed doen in die tweede ronde en ons posisie op die puntestand verbeter.

“ ’n Mens wil graag eerste of tweede op die punteleer eindig as die Curriebeker-reeks tot ’n einde kom sodat jy tuis in die eindstryd kan speel as jy jou halfeindstryd wen. Dis ons volgende mikpunt.”

Fourie hoop al die wedstryde in die Curriebeker-reeks kan gespeel word soos geskeduleer en dat daar ’n goeie en sterk kompetisie sal wees nadat ’n paar van die wedstryde in die Unlocked-reeks weens Covid-19 nie kon plaasvind nie.

Van ontwrigting gepraat, die Cheetahs se kaptein en flank, Junior Pokomela, moes hom Vrydag met ’n polsgewrigbesering aan die span onttrek.

Die slot Carl Wegner word die derde kaptein in die Unlocked-reeks, terwyl Aidon Davis nou flank sal speel.

Die punte word oorgedra en dis vir ons belangrik om met vyf ligapunte te wen Saterdag.
Hawies Fourie

Griekwas sal die tuisspan se twee nuwe stutte, Hencus van Wyk en Boan Venter, toets.

Die Poubloues sal straks die verwagte reën verwelkom, want die Cheetahs se giftige agterlyn kan op ’n droë veld amok maak.

Hoewel Griekwas steeds sonder ’n oorwinning is, het hulle in ’n paar wedstryde, soos die vorige een teen die Haaie wat hulle reg aan die einde met 33-34 verloor het, gewys wat hulle kan vermag.

Fourie sê daar kan nie veel gelees word in die spanne se twee vriendskaplike wedstryde aan die begin van die seisoen nie.

Baie het intussen gebeur, albei spanne het spelers verloor met kontrakte wat ten einde geloop het en ook weens beserings. Albei spanne het ook nuwelinge bygekry – Griekwas se twee slotte Ian Groenewald en Victor Sekekete – is byvoorbeeld nou Vrystaters.

Albei spanne het ook spelers terugverwelkom wat lank beseer was.

Die Cheetahs het die eerste oefenwedstryd in Kimberley maklik met 40-7 gewen nadat hulle rustyd met 33-0 voorgeloop het.

Fourie wys daarop dat hulle weens die wedstryd tussen Groen en Goud in Kaapstad, sowel as ’n paar beserings, net enkele gereelde spelers in die tweede oefenwedstryd kon inspan. Die Vrystaters het die wedstryd in Bloemfontein met hul “naasbestes” steeds met 31-21 gewen.

• Die vorige wedstryd teen die Stormers was die laaste waarin die stut Luan de Bruin en slot JP du Preez vir die Cheetahs gespeel het. Hulle gaan hul loopbane in Engeland voortsit.

Cheetahs: Clayton Blommetjies, Rhyno Smith, Howard Mnisi, Frans Steyn, Rosko Specman, Tian Schoeman, Tian Meyer, Jeandré Rudolph, Aidon Davis, Andisa Ntsila, Carl Wegner (k), Ian Groenewald, Hencus van Wyk, Reinach Venter, Boan Venter. PLAASVERVANGERS: Jacques du Toit, Cameron Dawson, Khutha Mchunu, Oupa Mohoje, Chris Massyn, Ruben de Haas, Reinhardt Fortuin, William Small-Smith.

Griekwas: Masixole Banda, Ederies Arendse, Harlon Klaasen, Johnathan Francke, Eduan Keyter, Tinus de Beer, Zak Burger (k), Carl Els, Stefan Willemse, Gideon van der Merwe, Cameron Lindsay, Adré Smith, Ewald van der Westhuizen, HJ Luus, Mox Mxoli. PLAASVERVANGERS (uit): Monde Hadebe, Andrew Beerwinkel, Madot Mabokela, Ewan Coetzee, CJ Velleman, Theo Maree, André Swarts, Daniel Kasende, Bandisa Ndlovu, Sibabalo Qoma, Ashlon Davids.

• Skeidsregter: AJ Jacobs

Assistent-skeidsregters: Paul Mente en Griffin Colby.

TV-skeidsregter: Willie Vos

TV: 16:30 op SS Grandstand (201) en SS Rugby (211).


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.