Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs verwelkom Jeandré

’n Geleentheid waarvoor hy dankbaar is en waarvoor hy eenvoudig nie nee kon sê nie.

Vars bloed. Die vuurvreter-flank Jeandré Rudolph word op 1 November amptelik ’n Cheetah. Foto: Gallo Images

So beskryf die flank Jeandré Rudolph sy koms na die Cheetahs op 1 November. Sy kontrak met die Pumas eindig aan die einde van Oktober en hy word dan vir die volgende twee jaar ’n Bloemfonteiner.

Rudolph is vanjaar aan die Bulle vir die Superrugby-reeks geleen en daar is aanvanklik gedink dat hulle hom sou opraap, maar hy was skynbaar nie deel van die planne van die nuwe direkteur van afrigting, Jake White, nie.

“Ek is nogal opgewonde om by hulle aan te sluit, maar vir eers is my fokus by die Pumas, by wie ek nog gekontrakteer is,” sê Rudolph.

Hy sê hy weet daar wag ’n groot uitdaging op hom, maar hy sien kans daarvoor.

“Wel, ek het nog nooit in Bloemfontein gebly nie, so ek sien daarna uit om die nuwe stad en sy mense te leer ken. Ek wil graag vir die Cheetahs uitdraf, want ek dink die soort rugby wat hulle speel, pas my en daar is baie spelers met hope ervaring om van te leer.”

Die Pumas het op hul beurt twee voormalige Cheetahs, die senter Ali Mgijima en die flank Daniel Maartens, gekontrakteer.

Groot terugslag. Die Cheetahs groet einde Oktober vir Walt Steenkamp, wat hom by die Bulle aansluit. Foto: Gallo Images

* Intussen het die Cheetah-slot Walt Steenkamp, wat op 1 November ’n Bul word, gesê dit was ’n moeilike besluit om die Cheetahs te groet.

“Ons (hy en sy vrou) was baie gelukkig in die Vrystaat. Ek het groot hoogtes saam met die span bereik. Om vir die Cheetahs te speel, bied jou baie geleenthede, soos om blootgestel te word aan die Noordelike Halfrond se manier van rugby speel. Ek het net goeie herinneringe van die Cheetahs,” het Steenkamp gesê.

Hy sê hy het in sy tyd by die Cheetahs geleer om twee soorte rugby te speel.

“As ons in Europa in die nat en koue weer gespeel het, het ons baie met die voorspelers gespeel en moes ons hard werk aan ons vaste fasette op die aanval en verdediging.

“In Bloem kon ons meer van ’n los wedstryd speel, hardlooprugby. So ek hoop ek kan al twee tipes toepas by die Bulle, maar dit hang ook af wat daar van my verwag word.”

Steenkamp sê toe hy in 2018 van die Pukke af Vrystaat toe gekom het met nog net Varsitybeker-rugby agter sy naam, het hy nooit gedink hy sou die volgende jaar ’n Curriebeker wen nie.

“Ek het baie gegroei as speler danksy die kultuur by die Cheetahs. Elke speler en afrigter druk jou om jou beste te gee en só kon ek net beter word.

“Ek is dankbaar vir elke afrigter, veral vir die voorspeler-afrigter, Corniel van Zyl. Hy, wat self ook slot gespeel het, het my baie geleer en hy het ’n geweldige invloed gehad op my as speler,” sê Steenkamp.

Meer oor:  Cheetahs  |  Walt Steenkamp  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.