Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs vir Covid-19 getoets

Die Cheetahs en die ganse bestuurspan is Maandag vir Covid-19 getoets, nadat hulle verlede maand nog in Ierland en Wallis Pro14-wedstryde gespeel het.

Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het dat alle Suid-Afrikaners wat van hoërisikolande (wat Brittanje insluit) teruggekeer het, hulle vir die virus moet laat toets.

Tian Meyer het gebrand om voor sy tuisskare in Bloemfontein te speel. Foto: Gallo Images

Die Cheetahs het op hulle onlangse toer wedstryde in Leinster, Belfast (Ierland) en Newport (Wallis) gespeel.

“Ons was in Wallis en Ierland en op Heathrow in Londen met ons laaste toer, so ons is gister (Maandag) almal laat toets, al die spelers en die bestuurspan,” het Hawies Fourie, die afrigter, gesê.

“Ons sal gou weet waar ons staan. Ons sal Woensdag of Donderdag die uitslae kry,” het Fourie gesê.

Die Cheetahs het, nadat die organiseerders van die Pro14-reeks die kompetisie onbepaald uitgestel het, besluit om voort te gaan met oefening, maar het Dinsdag die aftog geblaas.

Die vergrote groep het Maandag en Dinsdag nog in die gimnasium geoefen, maar hulle het intussen halt geroep.

“Ons het fiksheid en kragtoetse in die gimnasium gedoen en dan het ons vir die spelers programme gegee vir die volgende ruk, so hulle gaan tot 30 Maart op hulle eie oefen. Dan sal ons weer besluit wat daarna volg.

“Daar het ’n skrywe van SA Rugby gekom wat sê geen spanne, van skool tot beroepspanne – Pro14 tot Superrugby – mag tot 14 April as ’n span oefen nie.

“Ons sal nou tot 30 Maart so aangaan.

“Ons het Maandag met die Pro14-rugbybase gesels en hulle weet ook nog nie wat met die kompetisie gaan gebeur nie.”

Hy daar is in die stadium nog geen aanduiding of en wanneer die kompetisie sal voortgaan al dan nie.

Intussen sê die Cheetahs se “klubkaptein”, Tian Meyer, hoewel hulle nou by die huis is en tyd met hulle gesinne kan deurbring, is dit allermins vakansie.

Ons kan dalk by die huis hand bysit met die kinders omdat die skole ook gesluit is en dis in daardie opsig goed om by die huis te wees.
Tian Meyer

“Ons moet nog steeds fiks bly, want ons weet nie wat vorentoe gaan gebeur nie.

“Ons kan dalk by die huis hand bysit met die kinders omdat die skole ook gesluit is en dis in daardie opsig goed om by die huis te wees,” sê Meyer.

Hy sê hulle was die afgelope twee en halwe weke besig met oefening en geen van die spelers het simptome van Covid-19 getoon nie, maar die toetse wat Maandag gedoen is, sal die finale sê hê.

“Ek wil glo dat almal ongedeerd is en dit was daarom goed dat almal getoets is, sodat ons vrede kan vind.”

Hy sê hulle (die spelers) is maar soos almal in Suid-Afrika maar onrustig oor die stand van sake, want al kom hulle op 30 Maart weer byeen, is daar geen versekering dat hulle wel rugby sal kan speel nie.

Hy sê hulle verstaan die situasie, maar dit sou tog lekker gewees het om voor hulle eie mense te kon speel, veral nadat hulle segeloos van hulle toer teruggekeer het.

Meer oor:  Koronavirus  |  Pro14  |  Tian Meyer  |  Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.