Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs voer plan in mou om Iere te knou

Die Cheetahs wil Saterdag met ’n slim wedstrydplan Connacht se tonge laat hang en sodoende hul kalenderjaar op ’n wennoot laat eindig.

Louis Fouché gaan Connacht se voorspelers, wat nie gewoond is aan Bloemfontein se dunner lug nie, wil moeg maak met sy lang lynskoppe. Foto: Gallo Images

So sê die losskakel Louis Fouché, wat plekke met Tian Schoeman in die beginspan ruil vir dié Pro14-kragmeting in Bloemfontein.

“Om ons plan te laat werk, sal ons van die afskop af onsself fisiek moet laat geld. Ons sal ook slim moet speel om die lugdruk tot ons voordeel te gebruik,” sê Fouché.

“Ek is baie opgewonde om te begin, maar ek weet ’n harde wedstryd lê voor. Dit gaan ’n afgeronde vertoning deur al 23 spelers verg om dié een te wen.”

Fouché is bekend om sy lang lynskoppe en sal die Ierse besoekers goed kan laat omdraai, maar hy glo die aanslag sal voorlangs begin.

Die Cheetahs se pak staal hulle hoeka vir ’n hewige aanslag van Connacht, wat verlede week met die Southern Kings in die skrums gemors het.

“Ek dink die dinge gebeur maar altyd eers in die oond. Ons beoog om die spel goed af te wissel met lang skoppe en ook ons kenmerkende hardlooprugby.”

Verlede week, teen Benetton Treviso, het Fouché 20 minute speelkans gekry en onmiddellik ’n verskil gemaak.

Fouché is een van nege veranderinge, waarvan twee posisioneel is, aan die span wat teen die Italianers opgedraf het.

William Small-Smith is na die beginspan bevorder as Nico Lee se sentermaat.

Darren Adonis op linkervleuel maak sy Pro14-buiging in die plek van die voorste driedrukker in die reeks, Rabs Maxwane, wat las van ’n bobeenbesering het.

In die agttal kry Erich de Jager op loskopstut sy eerste kans in die beginspan. So ook Sintu Manjezi, wat saam met JP du Preez die nuwe slotpaar vorm. Abongile Nonkontwana is die nuwe flank.

Wat die posisionele skuiwe betref, is die flank Gerhard Olivier na agtsteman geskuif waar hy verlede week se held, Daniel Maartens, vervang en Junior Pokomela is nou die ander flank.

Connacht se span toon vyf veranderinge van die een wat die Kings gekarnuffel het.

Die haker Tom McCartney, die slotte Gavin Thornbury en Paul Boyle, Robin Copeland op agtsteman en Niyi Adeolokun op regtervleuel is die veranderinge.

* Cheetahs: Malcolm Jaer, Rhyno Smith, Wiliam Small-Smith, Nico Lee, Darren Adonis, Louis Fouché, Shaun Venter (k), Gerhard Olivier, Abongile Nonkontwana, Junior Pokomela, JP du Preez, Sintu Manjezi, Erich de Jager, Joseph Dweba, Ox Nche. PLAASVERVANGERS: Marnus van der Merwe, Charles Marais, Aranos Coetzee, Justin Basson, Daniel Maartens, Rudy Paige, Tian Schoeman, Benhard Janse van Rensburg.

Connacht: Tiernan O’Halloran, Niyi Adeolokun, Kyle Godwin, Tom Farrell, Matt Healy, Jack Carty, Caolin Blade, Robin Copeland, Jarrad Butler (k), Paul Boyle, Gavin Thornbury, Ultan Dillane, Conor Carey, Tom McCartney, Denis Buckley. PLAASVERVANGERS: Shane Delahunt, Peter McCabe, Dominic Robertson-McCoy, James Cannon, Colby Fainga’a, James Mitchell, David Horwitz, Cian Kelleher.

Skeidsregter: Dan Jones (Wal).

Assistent-skeidsregters: Craig Evans (Wal) en Ben Crouse (SA).

TV-skeidsregter: Johan Greeff (SA).

Afskop: 17:00 (SS 6, GDN).

Meer oor:  Tian Schoeman  |  Louis Fouche  |  Pro14-Reeks  |  Cheetahs  |  Connacht
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.