Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs voos geskrum op Nuweland

Daar is min dinge wat die Stormers so opgewonde maak as skrum en die Cheetahs was Saterdag op Nuweland hul jongste slagoffer in daardie faset.

Trouens, dit het vroeg in dié Superrugby Unlocked-wedstryd al só beroerd met die Vrystaters gegaan dat hul loskopstut, Charles Marais, sommer middeldeur die eerste helfte al vervang is nadat die Stormers-vaskop Frans Malherbe maalvleis van hom gemaak het.

Die Cheetahs se lynstaanspel het aan akkuraatheid ontbreek in Saterdag se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Stormers op Nuweland. Foto: Gallo Images

“Ek het gevoel dat Charles ’n bietjie swaar geleef het,” het Hawies Fourie, die Cheetahs se afrigter, doodeerlik ná hul nederlaag van 13-30 gesê.

“Hy is nogal lank vir ’n loskop en Frans het dit reggekry om hom onder druk te plaas. Ons het drie strafskoppe afgestaan en dit sou vier gewees het as die Stormers nie van ’n voordeel af punte aangeteken het nie.

“Toe het ek gevoel dit gaan beter wees om te kyk of Boan (Venter) beter gaan skrum. Hy is baie sterk en ’n bietjie korter, wat dit makliker maak teen Frans. Dit het goed vir ons gewerk.”

Of dit in die skrums of met die bal in die hand is, bly die Stormers-loskopstut Steven Kitshoff ’n handvol vir enige teenstander. Foto: Gallo Images

Die Stormers het baie vertroue uit die Cheetahs se vroeë verandering geput, vertel die Kapenaars se kaptein, Steven Kitshoff.

“Om hulle te dwing om so vroeg reeds ’n verandering te maak, was vir ons voorry ’n yslike hupstoot in terme van selfvertroue. Ons het vooraf geweet dit gaan ’n taai wedstryd met baie skrums wees,” sê hy.

Die Cheetahs het in die tweede helfte beter vertoon in die skrums, maar op kritieke oomblikke in die pylvak swaar geleef. Voeg onakkurate lynstaanspel by en dis maklik om te verstaan waarom hulle aan die kortste ent getrek het.

“As ons minder besit afstaan, sal ons goed genoeg wees. Maar dis baie moeilik om ’n groot deel van die 80 minute sonder die bal te speel en te moet duik,” sê Fourie.

“Daar moet ook krediet gegee word aan die Stormers. Hulle het deur hul opskietverdediging baie druk op ons geplaas. Hulle het foute aan ons kant afgedwing en dít het op die ou end ’n groot verskil gemaak.”

Fourie het ná Rosko Specman se skitterende drie in die tweede helfte gereken die Cheetahs is steeds in die geveg, maar sê “onnodige strafskoppe” is afgestaan en besit aan die Stormers gegee.

“Die Stormers se laaste drie deur Warrick Gelant was van goeie uitvoering deur Damian Willemse, so uiteindelik is dit maar die druk wat getel het. Die Stormers het in elke faset baie druk op ons geplaas en dit in punte omskep.”

Die Cheetah-held Frans Steyn lyk verslae en verslane in Saterdag se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Stormers op Nuweland. Foto: Gallo Images

In die aanloop tot die wedstryd was die groot vraag of Frans Steyn betyds van ’n liesbesering sou herstel om sy plek in die middelveld te neem. Hy is Saterdag fiks verklaar, maar die Cheetahs se Wêreldbeker-held kon nie ’n wesenlike verskil maak nie.

“Frans was nie so skerp soos ’n ou sou wou gehad het nie,” sê Fourie.

“Ek dink hy het die bal drie of vier keer in kontak verloor, wat dit moeilik gemaak het. Ons wou graag balbesit behou, fases bou en die Stormers oor die veld skuif, maar dit het nie gebeur nie.

“Hy het nie sy beste wedstryd gehad nie, maar ook ’n paar goeie goed gedoen en hard probeer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.