Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Cheetahs wil nou elke dag beter word’

Die gevoel om ’n langafstandatleet te wees, is afgeskud nadat rugbyspelers hul stryd om alleen te oefen, vandeesweek opsy kon skuif, vertel die Cheetah-senter Wiliam Small-Smith.

Hy is behoorlik uit sy vel nadat die Cheetahs vandeesweek die eerste keer met kontakoefeninge begin het.

William Small-Smith van die Cheetahs is opgewonde oor die Curriebeker-reeks al is hy nie seker wanneer dit begin nie. Foto: Gallo Images

Hulle het verlede week ’n blaaskans geneem terwyl die ander ses beroepspanne druk besig was.

“Dis lekker om vir ’n verandering weer voluit te kan oefen, want toe ons aan die begin kon oefen en net gehardloop het, het ek gevoel soos ’n langafstandatleet,” sê Small-Smith.

“Noudat die bal bygekom het, het ons besef hoe lekker ’n balsport werklik is, veral nou dat die spanoefening weer kon begin.”

Hy sê die eerste paar dae was maar rof, fisiek, maar dit is wat hulle later in die Curriebeker-reeks te wagte is, so hy het die fisieke aspek van die kontakoefening verwelkom.

“Dan is dit uiteraard ook lekker om weer al die spanmaats te kan sien tydens oefening.

“Die manne raak ’n bietjie fisiek, maar dis goed omdat ons dit nodig gaan kry later vanjaar. Dis duidelik dat die manne lus is vir kontak ná die tyd van inperking.”

Small-Smith sê wat die oefen betref, gaan dit voor die wind, aangesien die afrigtingspan onder leiding van Hawies Fourie (hoofafrigter), Corniel van Zyl (voorspeler-afrigter) en Charl Strydom (verdedigingsafrigter) in die stadium baie klem op detail lê.

“Ek voel ons planne kom goed bymekaar uit, ons moet net weer in ’n wedstrydsituasie kom. Dit gaan ook nie net om kontak te maak en te duik nie, dit gaan ook oor hoe om die wedstryd te bestuur.”

Hy sê dit is dus belangrik dat hulle Saterdag alles wat hulle die afgelope week tydens oefening baasgeraak het, toepas in die oefenwedstryd waarin hulle teen mekaar gaan speel.

Só ook volgende Vrydag wanneer hulle mekaar weer die stryd aansê.

Hulle kom dan ook in die twee losmakers later teen Griekwas te staan, voordat die Curriebeker-reeks begin.

Die Cheetahs behoort dus goeie voorbereiding agter die rug te hê voor die begin van die reeks.

“Daar is nog baie onduidelikheid, die Curriebeker-reeks se naam en begindatum is nog nie amptelik aangekondig nie. Dan om nie eens te praat van die bespiegelinge oor die Pro14-reeks van volgende jaar en of ons deel daarvan gaan wees of nie.

“Ons het as span gesê ons gaan fokus waarop ons kan, die unie het gesê hulle gaan aanhou om oop kaarte met ons te speel en ons dadelik laat weet as daar enige verwikkelinge is. Ons kan net beheer wat ons kan.

“Intussen fokus ons op ons oefeninge en neem dit week vir week en om elke dag beter te word,” sê Small-Smith.

Meer oor:  Cheetahs  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.