Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs wil tot in hof vir hul plek veg
Harold Verster

Die Cheetahs kan hulle tot die howe wend om hul plek in Superrugby te behou.

Hulle het reeds ’n senior advokaat geraadpleeg om die geldigheid van hul kontrak met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) te toets. Dié sogenaamde deelnamekontrak bepaal dat die Cheetahs tot 2020 deel van die Superreeks is.

Sanzaar, beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, mag volgens die kontrak die formaat van die reeks wysig, maar het volgens die kontrak nie die reg om spanne soos die Cheetahs deelname aan die reeks te ontsê nie.

Saru sal die punt waarskynlik betwis op grond van sy grondwet wat hom die mag kan gee om die aantal plaaslike spanne in die reeks te verminder.

Dié dispuut kan op ’n lang en uitgerekte hofstryd afstuur.

“Die Vrystaat Cheetahs (Edms.) Bpk. sal ten alle tye in belang en ter beskerming van Cheetah-rugby optree,” het die Cheetahs gister by navraag aan Rapport gesê.

“Ons sal dus alle moontlike weë tot ons beskikking oorweeg.”

Die Cheetahs het voor Dinsdag se vergadering van die franchise-komitee in Johannesburg in ’n e-pos aan Saru sy voorwaardes vir deelname aan die vergadering uitgestippel. Dít was die eerste salvo van geweervuur op ’n vergadering wat baie emosioneel verloop het.

In ’n stadium is daar selfs gedreig om die vergadering sonder die verteenwoordigers van die Cheetahs, Harold Verster en Rory Duncan, te laat voortgaan.

Die Vrystaters was later wel deel van die bespreking waarin gemoedere verskeie kere hoog geloop het toe besluit is oor die kriteria waaraan die ses franchises gemeet sal word om te bepaal watter vier aan 2018 se reeks sal deelneem.

Selfs ná die vergadering is daar agter die skerms kop gestamp. ’n Punt van dispuut is of die data van toeskouergetalle vanaf 2006 sal geld en of dit eers vanaf 2013 in berekening gebring sal word as een van die kriteria.

Volgens ’n bron is ’n besluit geneem om die data vanaf 2006 te gebruik. Dit behoort die Cheetahs tot voordeel te wees, want hulle het die Curriebeker-halfeindstryde en eindstryde in 2006 en 2007 aangebied. Word berekeninge van 2006 gedoen, sal die Cheetahs op ’n gemiddelde bywoningsyfer van ongeveer 17 000 toeskouers per wedstryd kan aanspraak maak.

Die Cheetahs se gemiddelde bywoninggetalle is swakker indien dit ná 2013 bereken word, ofskoon die Vrystaat met verlede jaar se Curriebeker-eindstryd die enigste unie was wat sy stadion kon vol kry.

Meer oor:  Harold Verster  |  Saru  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.