Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheika gaan Poemas nou help afrig
Die voormalige Wallaby-afrigter Michael Cheika gaan die Argentynse Poemas as konsultant help. Foto: Getty Images

Die voormalige Wallaby-afrigter Michael Cheika gaan in November en Desember die Argentynse Poemas in die Rugbykampioenskap in Australië as konsultant bystaan.

Cheika, wat in 2019 as Wallabies-afrigter bedank het nadat sy span in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi uitgeskakel is, het al vanjaar ook die Sydney Roosters se rugbyligaspan as konsultant bygestaan.

Volgens Mario Ledesma, die Poemas se afrigter, is Cheika baie opgewonde oor die vooruitsig om die Argentyne te help.

“Hy het nog altyd baie van Argentynse rugby gehou,” sê Ledesma.

Argentinië se afrigter het voorheen as skrumafrigter vir Cheika by Stade Francais en die Wallabies opgetree.

“Hierdie is ’n uitstekende geleentheid om nog meer by hom (Cheika) te leer, want hy is innoverend en het ’n super-kreatiewe visie. Hy is baie anders as die meeste afrigters waarmee ek al te doen gekry het,” sê Ledesma.

Volgens Ledesma het Cheika reeds die Argentyne met logistieke kwessies begin help sedert daar verlede week aangekondig is dat die Rugbykampioenskap in Australië aangebied gaan word.

Die voormalige All Black-afrigter Graham Henry het in 2012 en 2013 ook as konsultant vir die Poemas opgetree nadat hy die All Blacks in 2011 tot ’n tweede WB-triomf gelei het.

Cheika kon nou wel nooit die WB-eindstryd wen nie, maar hy is steeds die enigste afrigter wat beide die Europese Beker (met Leinster in 2009) en die Super-reeks (met die Waratahs in 2014) kon wen.

Cheika se besluit om die Poemas te help, kom as ietwat van ’n verrassing, want hy het nog in Mei gesê hy sal amper soos ’n “verraaier” voel as hy ander spanne sou help teen die spanne wat hy al afgerig het.

“Jy kan sê: ‘Ek sal hulle (Rugby Australië) wys’. Maar ek gaan nooit teen hulle wees nie. Dis my land. Dis my ouens. Dis die trui wat my kinders dra,” het hy toe aan The Times gesê.

Die Poemas is geskeduleer om hul aanslag in die Rugbykampioenskap op 7 November teen Suid-Afrika in Brisbane te begin. Suid-Afrika het egter nog nie sy deelname aan die reeks finaal bevestig nie. – Reuters.

Meer oor:  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.