Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheika voel pyn van trofeelose Wallabies

Michael Cheika, voormalige afrigter van die Australiese rugbyspan, erken hy is “seergemaak” dat hy nooit ’n groot trofee saam met die Wallabies gewen het nie.

Die stormagtige situasie in die plaaslike rugby het beslis ’n rol in sy onsuksesvolle veldtog as breier gespeel, sê hy.

Die voormalige Wallaby-breier Michael Cheika. Foto: Getty Images

Die 53-jarige afrigter het in Oktober verlede jaar as nasionale breier bedank ná die Wallabies se vernederende loesing teen Engeland in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi.

Hy was vyf jaar lank aan die stuur van die span en ná ’n aanvanklik belowende begin, het hy teen die einde erg onder kritiek deurgeloop.

Dave Rennie, voormalige Glasgow Warriors-breier en ’n Nieu-Seelander, het hom as Wallaby-breier vervang.

Sedert sy vertrek is Cheika as konsultant by die rugbyligaspan Sydney Roosters betrokke, maar hy erken hy wens sy tyd as Australiese breier het groter sukses opgelewer.

“Is ek tevrede met wat ek bereik het? Nee, gewis nie. Ek wou die Bledisloe-beker verower, die Wêreldbeker ook, maar ek het gefaal,” het hy aan Fox Sports erken.

“Dit maak seer op ’n baie persoonlike vlak. Ek heg groot waarde aan die ondersteuners en weet dis wat hulle van my en die span verwag het. Ek sien die teleurstelling, selfs in my eie familie.

“Die kinders wat hul Wallaby-truie aantrek en vol afwagting voor die TV stelling inneem. En dan die volgende oggend die teleurstelling as ons verloor het.”

Cheika het in 2015 met ’n spoed afgeskop. Sy Wallabies is die jaar in die eindstryd van die WB-toernooi deur die All Blacks geklop en Cheika is agterna as die Wêreldbreier van die Jaar aangewys.

Die Wallabies is die eindresultaat van ons voorbereiding op Superrugbyvlak en dis ongelukkig waar ons gesukkel het.
Michael Cheika

Maar die laaste 18 maande van sy termyn was minder suksesvol en is erg gekortwiek deur sy bitter verhouding met die Australiese rugbybase, vernaam die uitvoerende hoof, Raelene Castle, met wie hy gereeld koppe gestamp het.

“Ek was nog altyd ’n buitestander in rugby, ’n randfiguur van die establishment.

“Gegewe die omstandighede in Australiese rugby die afgelope vyf jaar, het die nasionale span altyd met onbeteuelde durf gespeel.

“Die Wallabies is die eindresultaat van ons voorbereiding op Superrugbyvlak en dis ongelukkig waar ons gesukkel het,” het Cheika gesê.

Cheika moes ook ’n manier vind om leemtes te vul wat gelaat is deur spelers wat deur groot oorsese kontrakte weggerokkel is.

Die Wallabies se talentpoel is sodoende uitgedun. Boonop het Cheika een van sy groot sterre, Israel Folau, verloor toe die speler weens homofobiese uitsprake van sy kontrak onthef is.

Ondanks al die terugslae, sê Cheika, is hy trots op sy termyn as Australiese afrigter.

“Ek is trots op die toetsseges wat ons behaal het. Baie van die spelers het in die wedstryde bo hul potensiaal gespeel.” - Sportredaksie; stuff.co.nz

Meer oor:  Wallabies  |  Michael Cheika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.