Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheslin: Rassie het ‘respek’ teruggebring

In die tyd voordat Rassie Erasmus die leisels as afrigter van die nasionale rugbyspan oorgeneem het, was daar nie meer respek vir die Springbok-trui nie, sê Cheslin Kolbe.

Die 27-jarige Kolbe, een van die sterre toe Suid-Afrika die Wêreldbeker-toernooi in 2019 in Japan gewen het, is Maandag gevra watter invloed Erasmus op sy loopbaan het.

Cheslin Kolbe oomblikke voordat hy Engeland se Owen Farrell gesystap het op pad na die doellyn in die eindstryd van 2019 se Wêreldbeker-toernooi. Foto: Getty Images

Dit was gedurende ’n aanlyn geleentheid waar Kolbe as ’n handelsmerk-ambassadeur van Momentum, ’n verskaffer van finansiële dienste, bekend gestel is.

“Ek is geseënd om al saam met baie afrigters te kon werk, afrigters wat almal ’n groot invloed op my loopbaan gehad het. Rassie is ’n afrigter waarvoor ek so baie respek het,” sê Kolbe, ’n vleuel, wat sy toetsbuiging in 2018 gemaak het.

“Hy is nie net die afrigter wat my ’n geleentheid gegee het om die Groen-en-Goud te dra nie, maar jy sal ver soek om ’n nederiger afrigter as Rassie te vind. Hy is ’n afrigter wat daar is vir Suid-Afrika, vir die Springbokke en vir die spelers.

“Dit is wat Rassie teruggebring het na die span. Daardie geloof en kultuur, dit is nie net iets wat oor die Springbokke gaan nie, maar ook oor die hele Suid-Afrika. “Sy grootste ding was net om die respek vir die Springboktrui terug te kry. Veral wat gebeur het in die jare voordat hy oorgeneem het; mense het hul respek en trots vir die Springboktrui verloor. Dit is waarvoor ons geveg het, om daardie respek van Suid-Afrikaners en mense oor die wêreld heen terug te kry,” sê Kolbe.

Voordat Erasmus, tans die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, vroeg in 2018 vir Allister Coetzee opgevolg het as Bok-afrigter, het dinge inderdaad maar droewig daaruit gesien. Onder Coetzee se breierskap kon Suid-Afrika net 11 van die 25 toetse waarin gespeel is, wen. Dít het ’n eerste nederlaag teen Italië en verskeie ander laagtepunte ingesluit.

Rassie Erasmus hou die Webb Ellis-trofee omhoog nadat die Springbokke Engeland in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi in 2019 in Japan verslaan het. Foto: Getty Images

Min sou kon voorspel dat die Springbokke ’n rapsie meer as ’n jaar nadat Erasmus oorgeneem het, in Japan sou koning kraai.

Voordat Kolbe ’n wêreldbekende Bok geword het, het hy sy stempel in sewesrugby afgedruk. Hy was deel van die Blitsbok-span wat in 2016 ’n bronsmedalje op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro verower het.

“Dit was by die sewes wat ek my beroepsloopbaan begin het. Daar het ek by spelers geleer om diep te delf en te veg en vas te byt, want daar gaan moeilike tye wees.

“Met die Olimpiese Spele in 2021, dit is uit die aard van die saak iets massief waarvan jy deel wil wees. Maar ek dink met die Britse en Ierse Leeus-toer wat ook in 2021 is – dit bots met mekaar,” sê Kolbe.

“Maar soos ek gesê het, is ek hier om my rugby te geniet – om my beste rugby te speel. Hopelik word ek deur een van die afrigters gekies, of dit vir die Spele of teen die Britse en Ierse Leeus is.

“Ek sal beslis daarvan hou om teen die Britse en Ierse Leeus te speel, want dit is iets waarvan ek nog nie tevore deel was nie. Ek het ’n proesel van die Spele in 2016 gehad.”

Meer oor:  Cheslin Kolbe  |  Rassie Erasmus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.