Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheslin wil nóg goud in Tokio delf

Sy goue medalje as Wêreldbeker-wenner is vir die Springbok-held Cheslin Kolbe ’n kosbaarheid. Maar, sê die vetgesmeerde blits van die Springbokke, ’n Olimpiese goue sal darem alte spoggerig langs die een van die Wêreldbeker lyk.

Cheslin Kolbe in aksie vir die Blitsbokke in 2013.

En daarom hunker hy terug Japan toe. Na Tokio, waar die Blitsbokke volgende jaar by die Olimpiese Spele in aksie sal wees en hy hoop om deel van die aksie te wees.

Al het Kolbe in 2019 ’n droomjaar beleef met ’n Wêreldbeker-goue en ’n tros pryse in Frankryk se Top 14-reeks, is hy nog lank nie klaar gedroom nie. Een van sy pryse is as Top 14 se Speler van die Jaar, ’n prys wat Kolbe sê hom verras het.

“Ek is vir drie pryse benoem. Ek het dalk een verwag, maar nooit al drie nie. Om as die Speler van die Jaar aangewys te word, is ongelooflik,” het hy aan Rapport gesê.

“Dit is ’n eer om so vereer te word, maar dit is nie die einde nie. Rugby is ’n spansport en daar is baie manne wat bygedra het tot die eer.”

En nou wil hy sy aandag op die Olimpiese Spele rig, en vir die Blitsbokke weer in Tokio goud gaan delf.

“Vir seker. As ek daai goue medalje kan terugbring Suid-Afrika toe, sal dit definitief een vir die boeke wees.

“Dan sal die medaljes vir die Top 14, die Wêreldbeker en die Olimpiese Spele in die sakkie wees – en ek dink nie daar is groter kompetisies as dit nie.

Ek het dalk een verwag, maar nooit al drie nie.

“Vir my is die Wêreldbeker en die Olimpiese Spele die grootste gebeurtenisse in sport. As jy in albei goud kan wen . . .”

Met die Europese seisoen wat min tyd toelaat om in Wêreldrugby se sewestoernooie te speel en die vereiste van die Blitsbok-afrigter, Neil Powell, dat spelers in toernooie moet speel om vir die Spele in aanmerking te kan kom, is Kolbe in ’n stryd gewikkel om albei sy rugbygode gelukkig te hou. Maar hy is vasberade om dit te laat werk en in Tokio vir die Spele aan te tree.

“Dit is nogal moeilik met die Top 14 en die Kampioenebeker, saam met die rus wat die Franse klubreëls voorskryf.

“Dit is veral vir my moeilik om my tot sewes-toernooie te verbind, maar ek is hoopvol om ten minste in twee van hulle vir die Blitse te speel.

“Ek sal met coach Neil praat en sien wanneer ons dit kan laat gebeur.

“Die klub betaal my salaris, so ek moet hulle ook gelukkig hou en dinge uitwerk tussen die klub en SA Rugby.”

Sy klub, Toulouse, het hom ná sy Wêreldbeker-heldedade in Japan ook ’n heldeverwelkoming gegee, maar die realiteit van klubrugby het vinnig ingesink en Kolbe sal weer vir die klub moet uithaal en wys.

“Rugby is maar rugby en uiteindelik doen jy waarvoor jy betaal word.”

Kolbe sê hy besef nou eers uit mense en ondersteuners se reaksie hoe groot die wen van die Wêreldbeker eintlik is.

“Dit was vir my ’n wonderlike jaar en ek is net baie dankbaar dat ek geen beserings opgedoen het nie.

“Ja, daar is oomblikke en dinge wat uitstaan van die rugbyjaar, voor en ná die eindstryd, soos toe Rassie vir ons gesê het ons speel nie vir onsself nie, maar vir die ganse land.

“Ons land is maar deur ’n rowwe tyd die afgelope ruk en dit is lekker om deur rugby baie hoop vir baie mense te gee en te wys dat ons as Suid-Afrikaners kan bymekaar kom en só die Wêreldbeker kon wen.

“Dis ongelooflik.”

Oor sy drie in die eindstryd teen Engeland is Kolbe steeds in vervoering.

“Dit was rêrig ’n lekker gevoel. Ek was toevallig in die heelagter-posisie op verdediging en met die omkeerbesit het Pieter-Steph die bal vir my gegee en ek het my kans gebruik.

“ ’n Mens kry nie baie kanse in ’n eindstryd nie.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Cheslin Kolbe  |  Tokio  |  Japan  |  Springbokke  |  Medaljes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.