Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Chester werf top-skolespelers

Met verskeie van Suid-Afrika se voorste skolerugbyspelers wat nog nie kontrakte aangebied is deur provinsiale unies nie, het die voormalige Springbok-vleuel Chester Williams ’n beroep op hulle gedoen om die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) as ’n rugbytuiste te oorweeg.

Chester Williams in 2017 op Ellispark tydens ’n toets tussen Suid-Afrika en Frankryk. Foto: Gallo Images

Die 48-jarige Williams is die afrigter van UWK se rugbyspan wat in 2020 vir die tweede jaar in die Varsitybeker-reeks gaan deelneem.

Met unies wat net ’n handjievol skolespelers kontrakteer en die nasionale kompetisie vir o.19-spanne wat vanjaar net in ’n verkorte formaat plaasvind, kan dit beteken dat baie belowende jong spelers vir Suid-Afrikaanse rugby verlore gaan.

Williams, wat in sy speeldae die Bokke en Blitsbokke verteenwoordig het, het egter onder die hutsmerk #ChesterRecruits ’n veldtog begin om die beste jong talent in die land vir sy span te vind.

Hy bied nou aan spelers die geleentheid om rugby te speel, terwyl hulle hul voorberei vir die werkslewe ná hul studies.

Williams het by navraag gesê hy is bewus daarvan dat baie van die beste spelers eerder na ’n tersiêre instelling soos die nabygeleë Universiteit Stellenbosch wil gaan.

“Ek is op soek na hardwerkende spelers, wat ’n geleentheid soek. By ons gaan hulle ’n goeie kans hê om rugby op ’n topvlak te speel.”

Hy sê in ’n verklaring van die UWK dat hy laat in sy lewe besef het dat rugby alleen nie genoeg is nie.

Kurt-Lee Arendse in aksie vir die Blitsbokke tydens Wêreldrugby se sewestoernooi in Hongkong in 2019. Foto: Getty Images

“Ek het seker gemaak dat ek verder studeer en ’n kwalifikasie verwerf om nuwe geleenthede vir myself te skep.

“Universiteite lewer die rugbysterre van die toekoms op. Een van ons sterre in die Varsitybeker, Herschel Jantjies, wat vir die Stormers speel, het sy Bok-toetsdebuut die afgelope naweek teen Australië gemaak.

Hy het ’n skitterende vertoning gelewer en is as die Speler van die Wedstryd aangewys.

“Lyle Hendricks, wat deel van die span is, is ’n Junior Bok, terwyl sy spanmaat Kurt-Lee Arendse in 2018 met onderskeiding sy debuut vir die Blitsbokke gemaak het,” sê Williams.

UWK het in die 2019 Varsitybeker-reeks ’n paar naelskraapse nederlae gely, maar het die Universiteit van Johannesburg met 29-17 geklop.

Aansoeke vir studie aan die meeste fakulteite by die UWK sluit op 30 September, terwyl dié in tandheelkunde reeds op 31 Augustus sluit.

Belangstellendes kan direk met Williams in verbinding tree by chesterrecruits@uwc.ac.za.

Meer oor:  Uwk  |  Varsitybeker  |  Chester Williams
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.