Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Chiefs kies Damian op losskakel

Die onvoorspelbare All Black Damian McKenzie kry hierdie naweek eindelik weer ’n slag kans om sy rugbytalente op losskakel uit te stal.

Die 25-jarige Damian McKenzie, wat al 25 toetse vir die All Blacks gespeel het, sal Saterdag vir die Chiefs op losskakel teen die Crusaders diens doen. Foto: Getty Images

Die 25-jarige McKenzie, wat meestal op heelagter gekies word, sal Saterdag vir die Chiefs losskakel speel in hul Super Rugby Aotearoa-wedstryd teen die Crusaders in Waikato in Nieu-Seeland.

Clayton McMillan, die Chiefs se hoofafrigter, voer duidelik iets in die mou met McKenzie se skuif.

“Die Crusaders is al vir baie jare ’n formidabele span, wat die basiese dinge briljant doen. Maar hulle is die afgelope paar weke op sekere gebiede uitgedaag en ons wil daarmee voortgaan,” het hy aan superrugby.co.nz gesê.

McMillan het dalk gesien dat die Crusaders se verdediging ook deur avontuurlike spel deurdring kan word en wie beter om sy teorie te toets as die vlugvoetige McKenzie?

Die Crusaders sal boonop sonder hul ervare senter Jack Goodhue, wat een van sy span se sleutelspelers op die verdediging was, wees.

Goodhue sal weens ’n kniebesering nie vir die res van die seisoen kan speel nie.

Met McKenzie wat vir die Chiefs losskakel toe skuif, kry die belowende Chase Tiatia weer ’n slag kans op heelagter.

Maar voordat die Chiefs en die Crusaders mekaar Saterdag aandurf, is dit eers Vrydag die Highlanders en die Blues se beurt om in Dunedin teen mekaar te speel.

Die All Black- en Crusader-senter Jack Goodhue sal weens ’n kniebesering nie weer hierdie seisoen in aksie kan wees nie. Foto: Getty Images

Die Blues is agt punte agter die voorlopers, die Crusaders, op die puntelys en sal hoop om met ’n oorwinning oor die Highlanders hul posisie te verstewig.

Die Highlanders sal sonder die knap heelagter Connor Garden-Bachop, wat ’n polsgewrig gebreek het, wees.

Die Highlanders is reeds weens beserings sonder talle goeie spelers waaronder Thoms Umaga-Jensen, Liam Squire en Patrick Tuipulotu tel.

Met Garden-Bachop uit, kry die talentvolle Josh Ioane weer ’n kans in die beginspan. Ioane was weens sy aptyt vir partytjie hou vir ’n tydjie nie in die Highlanders se bestuur se goeie boekies nie.

• In Australië begin dié land se Superreeks einde se kant toe staan.

Saterdag speel die twee spanne wat laaste op die puntelys is, die Western Force en die Waratahs, in Perth teen mekaar en Sondag pak die Rebels en die Brumbies mekaar in Melbourne.

Dave Rennie, die Wallabies se afrigter, het vandeesweek genoem dat hy nog kopkrap oor wie sy heelagter in die komende reeks teen Frankryk moet wees.

In Saterdag se wedstryd is dit twee Jacks en in Sondag s’n twee Toms wat getoets sal word.

Jack McGregor speel vir die Force heelagter en Jack Maddocks beman die laaste vesting vir die Waratahs.

Die Rebels se heelagter is Tom Pincus en die Brumbies s’n is Tom Banks.

Spanne vir Vrydag se wedstryd: Highlanders: Josh Ioane, Ngatungane Punivai, Patelesio Tomkinson, Scott Gregory, Jona Nareki, Mitch Hunt, Aaron Smith, Kazuki Himeno, Billy Harmon, Shannon Frizell, Josh Dickson, Bryn Evans, Siate Tokolahi, Ash Dickson en Ayden Johnstone. PLAASVERVANGERS: Liam Coltman, Ethan de Groot, Josh Hohneck, Manaaki Selby-Rickit, Marino Mikaele-Tu’u, Kayne Hammington, Michael Collins en James Lentjes.

Blues: Stephen Perofeta, Mark Telea, Rieko Ioane, TJ Faine, Caleb Clarke, Otere Black, Jonathan Ruru, Hoskins Sotutu, Dalton Papalii, Tom Robinson, Sam Darry, Gerard Cowley-Tuiloti, Ofa Tuungafasi, Luteru Tolai en Karl Tu’inukuafe. PLAASVERVANGERS: Leni Apisai, Alex Hodgman, Nepo Laulale, Josh Goodhue, Akira Ionae, Finlay Christie, Harry Plummer en Bryce Heem.

TV: Van 09:00 op Grandstand (201) en DStv se rugbykanaal (211).

Meer oor:  Damian Mckenzie  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.