Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Chiefs sink Highlanders in ekstra tyd

’n Strafdoel in ekstra tyd deur Damian McKenzie het Saterdag die Chiefs hul eerste oorwinning in ses pogings oor die Highlanders gegee met 26-23 in die Superrugby Aotearoa-reeks.

Damian McKenzie Foto: Getty Images

Die gouepunt-stelsel, waarvolgens die eerste span wat punte in ekstra tyd kan aanteken wen, het eindelik die wenner bepaal nadat die spanne ná 80 minuut gelykop was met 23-23.

Dit was ’n dag wat die Highlanders se losskakel Mitch Hunt nog lank sal wonder waar hy sy skopskoene vergeet het nadat hy verskeie kere mis gekorrel het en dit sy span toe duur te staan gekom het.

Hunt se eerste poging wat langs die pale verby is, was reeds vroeg in die wedstryd toe albei spanne nog die eerste punte van die wedstryd gejaag het.

Die Chiefs, wat die eerste kragmeting tussen die twee spanne vanjaar met 23-39 verloor het, was eerste op die telbord nadat Etene Nanai-Seturo briljant gedoen het om af te rond.

Die Highlanders kon wel terugslaan en in die proses die eerste keer in vanjaar se reeks binne die eerste 20 minute die doellyn oorsteek toe James Lentjes gedruk het.

’n Strafdoel deur McKenzie het sy span toegelaat om met die omdraaislag met 10-5 voor te loop, maar Aaron Smith het sake vroeg in die tweede helfte weer gelykop gemaak toe hy afgerond het.

Hunt se doelskop was hier ook wyd.

’n Strafskop en Hunt se derde onsuksesvolle keer waar hy aangelê het pale toe het verhoed dat sy span die voortou neem, met McKenzie se skopskoen wat sy span se neuse wel voor gekry het met ’n strafdoel.

Hunt kon eindelik ’n skop deur die pale jaag om dinge op 13-elk gelykop te maak voordat McKenzie die Chiefs weer voor laat loop het met drie punte.

Angus Ta’avao se drie het die besoekers met 23-13 laat voorloop nadat McKenzie verdoel het, voordat Josh Ioane afgerond en sommer verdoel het vir die Highlanders.

Ioane kon ekstra tyd afdwing met ’n strafdoel, voordat McKenzie die laaste sê gehad het.

Die Highlanders kon toe nie die eerste keer sedert April 2019 twee agtereenvolgende Superrugby-wedstryde wen nie. Dit nadat hy in sy laaste wedstryd die Crusaders met 33-12 verras het.

Vir die Chiefs was dit die derde agtereenvolgende regmerkie, met die Highlanders wat nou sewe uit hul laaste nege tuiswedstryde verloor het. – Sportredaksie

Puntemakers

Highlanders 23 (5): Drieë: James Lentjes, Aaron Smith, Josh Ioane. Doelskop: Ioane. Strafdoele: Mitch Hunt, Ioane.

Chiefs 26 (10): Drieë: Etene Nanai-Seturo, Angus Ta’avao. Doelskoppe: Damian McKenzie (2). Strafdoele: McKenzie (4)

• In Australië se Superrugby-reeks het die Queensland Reds die Brumbies met 24-22 geklop in hul kragmeting Saterdag in Brisbane.

Die Reds se losskakel, James O’Connor, het kort voor die eindfluitjie geblaas het, met 'n strafdoel geslaag om die sege te beklink.

Puntemakers:

Reds 24 (6): Drieë: Joshua Flook, Jordan Petaia. Doelskop: James O'Connor. Strafdoele: O'Connor (4).

Brumbies 22 (15): Drieë: Folau Fainga'a, Tom Banks, Tom Wright. Doelskoppe: Noah Lolesia (2). Strafdoel: Nic White.


Meer oor:  Damian Mckenzie  |  Superrugby Aotearoa  |  Chiefs  |  Highlanders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.