Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Chiefs word dubbele kampioen

Die Exeter Chiefs het hul opgang in Europese rugby voortgesit toe hulle die Wasps Saterdagaand op ’n nat Twickenham met 19-13 verslaan het in die eindstryd van die Engelse Premierliga.

Die room van Engelse rugby. Die Exeter Chiefs het die London Wasps Saterdag op Twickenham in die eindstryd van die Engelse Premierliga geklop. Foto: Getty Images

Die oorwinning volg sewe dae nadat die Chiefs ook die Europese Kampioenebeker-titel verower het toe hulle die Franse klub Racing92 geklop het.

Die Wasps het eers Woensdag bevestiging gekry dat die eindstryd wel sal plaasvind, nadat die klub in die opbou tot die wedstryd positiewe Covid-19-voorvalle in sy groep gehad het.

Dié ontwrigting het nie Saterdag op die veld gewys nie en daar was vir die grootste deel van die kragmeting nie veel tussen die spanne nie. Die Chiefs was teen rustyd met 13-10 voor.

Die tweede helfte was intens en dit was uiteindelik ’n strafdoel deur Joe Simmonds, losskakel van die Chiefs, wat sy span se voorsprong tot ses punte gerek het.

Met hierdie oorwinning het die kampioen, met die Suid-Afrikaanse losvoorspelers Jannes Kirsten en Jacques Vermeulen in sy geledere, slegs die vierde span geword wat die Engelse en Europese kroon in dieselfde seisoen kon wen.

Henry Slade, senter van die Chiefs, trek sy ore plat met die voormalige Springbok-senter Juan de Jongh (regs) wat hom probeer stuit. Jannes Kirsten is byderhand om Slade te ondersteun. Foto: Getty Images

Die Chiefs sluit by Leicester, wat dit opeenvolgens in 2001 en 2002 vermag het, die Wasps (2004) en Saracens (2016 en 2019) aan.

Die Chiefs het die prestasie behaal slegs ’n dekade nadat hulle na die Premierliga bevorder is.

Dit is ondenkbaar dat die span in die suide van Engeland vir die eerste 139 jaar van sy bestaan in laer ligas gespeel het.

Tony Rowe, voorsitter van die Chiefs, is die baasbrein agter die span se opmars en Rob Baxter, die direkteur van rugby, het die afgelope paar seisoene ’n gedugte groep spelers ontwikkel.

Die Chiefs tel die afgelope vyf seisoene onder die voorste vier spanne in Engelse rugby en het elke keer die eindstryd gehaal.

Baxter het Kirsten en Vermeulen, wat voorheen vir onderskeidelik die Bulle en die Haaie gespeel het, geloof vir hul bydrae in die Chiefs se kragtige agttal.

Kirsten het Saterdag in die nr. 7-trui begin en Vermeulen was een van die plaasvervangers. – bbc.com

Meer oor:  Wasps  |  Exeter Chiefs  |  Engelse Premierliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.