Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Chiliboy gaan appelleer teen skorsing
Chiliboy Ralepelle se voorlaaste toets vir die Bokke, in 2018 teen Wallis in Washington D.C. Foto: Gallo Images

Chiliboy Ralepelle se regspan glo daar is verskeie gronde vir appèl teen sy skorsing van agt jaar nadat dié voormalige Springbok-haker skuldig bevind is aan die gebruik van die verbode middel zeranol.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) het Woensdag bevestig dat ’n onafhanklike tribunaal vandeesweek in twee dele uitspraak gelewer het nadat Ralepelle op 17 Januarie 2019 in Durban positief getoets is in ’n lukrake buitekompetisie-toets.

Ralepelle en sy regspan gaan hierteen appelleer.

As die appèl misluk, sal sy skorsing eers op 27 Januarie 2027 verstryk. Ralepelle (33) sal dan 40 jaar oud wees.

“Dit is sleg, dit is nie die uitkoms wat ons verwag het nie. Beslis nie agt jaar nie. Dit is ’n lang tyd en of hy enigsins skuldig is, is iets wat ons uiteraard bevraagteken,” het Hendrik Hugo ’n prokureur van ENSafrica en een van Ralepelle se regsverteenwoordigers, Woensdag aan Netwerk24 gesê.

Dit is nie die uitkoms wat ons verwag het nie. Beslis nie agt jaar nie. Dit is ’n lang tyd en of hy enigsins skuldig is, is iets wat ons uiteraard bevraagteken.
Hendrik Hugo

Die gewese Blou Bul- en Haaie-speler het nog die hele tyd volgehou hy het die middel, wat ’n groeihormoon is, onwetend ingeneem het.

Saids sê verhore is verskeie kere verdaag en is oor ses maande gehou. Die paneel het eers oor die meriete van die saak besluit, waarna Ralepelle skuldig bevind is.

Daarna moes die tugpaneel op ’n straf besluit. Die tugpaneel het dié saak as sy tweede skuldigbevinding beoordeel en hom vir agt jaar geskors.

Ralepelle is in 2014 ook aan die gebruik van ’n verbode middel skuldig bevind.

In 2010 is opkikkers ook in sy bloed gekry, maar hy is onskuldig bevind nadat hy kon bewys die middels was in ’n proteïenaanvulling wat die Springbokke gebruik het.

“Ons is nou besig om ’n mening aan Chiliboy uit te reik, oor wat die gronde van appèl is. Vanuit ons perspektief, wat slegs ’n regsperspektief is, glo ons daar is gronde vir appèl teen die meriete en die skorsing,” sê Hugo.

“Ons werk op instruksie en sal met Chiliboy konsulteer voordat ons sal voortgaan, maar ons sal appelleer.”

Een van die gronde van appèl wat deur sy regspan oorweeg word, het te doen met die duur van sy skorsing. In 2014 is Ralepelle vir twee jaar geskors nadat ’n anaboliese steroïed in sy bloed gevind is. Volgens Wada, die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels, se regulasies was die straf vir steroïede toe twee jaar.

Hendrik Hugo van ENSafrica, een van Chiliboy Ralepelle se regsverteenwoordigers.

In 2015 is die regulasies verander en die straf is tot vier jaar opgeskuif. As Ralepelle dus ’n jaar later positief getoets is, kon sy skorsing moontlik vier jaar gewees het, en nie twee jaar nie.

Hierin lê een van die moontlike gronde van appèl wat sy regspan nou oorweeg, want al is die straf vir sy eerste oortreding nóu vier jaar, was dit destyds net twee jaar.

“Die regulasies sê as jy ’n tweede oortreding begaan, kan die straf van die eerste oortreding verdubbel word. As jy die straf van Chiliboy se eerste oortreding verdubbel, moet dit dus nou vier jaar wees en nie agt jaar nie,” aldus Hugo.

• Khalid Galant, uitvoerende hoof van Saids, sê die saak van nog ’n Springbok wat positief getoets is vir die gebruik van ’n verbode middel, die vleuel Aphiwe Dyantyi, kan hopelik in September voorkom.

“Ons werk daaraan om protokolle en prosedures vir ’n virtuele verhoor te bevestig. Ons moes wag vir laboratoriums om te heropen sodat bykomende monsters ontleed kon word,” het Galant aan Netwerk24 gesê.

Die 25-jarige vleuel is in Julie 2019 positief vir die gebruik van die anaboliese steroïede metandiënoon, metieltestosteroon en LGD-4033 getoets. Hy staan die bevindinge teen.

Meer oor:  Chiliboy Ralepelle  |  Pretoria  |  Appelleer  |  Rugby  |  Haker  |  Skorsing  |  Springbok  |  Opkikkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.