Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Chiliboy hoor gou sy lot, Dyantyi saak...
Chiliboy Ralepelle gaan uiteindelik sy lot hoor nadat hy verlede jaar in Januarie vir die derde keer positief getoets is vir die gebruik van verbode middels. Foto: Gallo Images

Chiliboy Ralepelle gaan uiteindelik ná ’n uitgerekte proses van 16 maande sy lot hoor nadat hy in Januarie 2019 vir die derde keer in sy loopbaan vir die gebruik van ’n verbode middel positief getoets is.

Die staat van inperking het egter die saak van nóg ’n Springbok wat positief getoets is vir opkikkers, Aphiwe Dyantyi, verder vertraag.

Maar die oudhaker Ralepelle se saak staan eindelik, ná verskeie vertragings, einde se kant toe. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) het verwag om reeds op 11 Maart uitsluitsel van die tugkomitee te verkry wat Ralepelle se saak aangehoor het.

Die tugkomitee het toe bykomende betooghoofde van albei partye (Saids en Ralepelle) aangevra, wat die saak verder vertraag het, maar dié betooghoofde is nou reeds ingedien en Saids wag nou op ’n uitspraak van die tugkomitee.

’n Besluit sal binnekort gemaak word. Die finale argumente oor die strafoplegging is in die inperking ingedien.
Khalid Galant

“ ’n Besluit sal binnekort gemaak word. Die finale argumente oor die strafoplegging is in die inperking ingedien,” het Khalid Galant, uitvoerende hoof van Saids, Vrydag aan Netwerk24 gesê.

Ralepelle (33) sal dus binnekort hoor wat sy straf is nadat hy positief getoets is vir die verbode middel zeranol, wat ’n groeihormoon is. Hy het van die begin af volgehou hy het die middel onwetend ingekry.

Sy loopbaan kan nietemin verby wees, want nie net is hy reeds betreklik oud vir ’n rugbyspeler nie, maar hy is ook al twee keer vantevore positief getoets vir verbode middels.

Selfs al sou die tugkomitee hom ietwat genadig wees, word hy dus nietemin deur ’n lang skorsing in die gesig gestaar.

Aphiwe Dyantyi se verhoor is weens die inperking uitgestel. Hy is verlede jaar positief getoets vir die gebruik van drie verbode middels. Foto: Gallo Images

Ralepelle is in 2014 vir twee jaar geskors vir die gebruik van ’n verbode middel. In 2010 is opkikkers ook in sy bloed gekry, maar hy is onskuldig bevind nadat hy kon bewys die middels was in ’n proteïenaanvulling wat die Bokke aanbeveel het.

Die Bok-vleuel Dyantyi (25) sou vroeg in Mei verhoor word, maar die Covid-19-inperking het dit onmoontlik gemaak. Hy is verlede jaar in Julie positief vir die gebruik van die anaboliese steroïede metandiënoon, metieltestosteroon en LGD-4033 getoets. Hy staan die bevindinge teen.

“Die inperking het dit uiteraard moeilik gemaak om die verhoor te hou. Ons werk nou aan moontlike oplossings sodat die saak aangehoor kan word,” sê Galant.

Ook Dyantyi se saak sloer al ’n geruime tyd. Sy verhoor was glo reeds vir Februarie geskeduleer, maar sy regspan het uitstel gevra om hul verdediging te bou. Dyantyi word deur ’n minimum skorsing van vier jaar in die gesig gestaar vir die gebruik van anaboliese steroïede.

Dyantyi het vandeesweek ’n kriptiese boodskap op sy Instagram-profiel geplaas. By ’n video van hoogtepunte op die rugbyveld, skryf hy: “Dinge verander, maar herinneringe hou vir ewig, hulle is tydlose skatte van die hart. . . Niks is seker in die lewe nie, geniet elke oomblik.”

Hier is Dyantyi se plasing op Instragram:


Meer oor:  Aphiwe Dyantyi  |  Chiliboy Ralepelle  |  Suid-Afrika  |  Haker  |  Saids  |  Opkikkers  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.