Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Chiliboy: ‘Stelsel verraai swart spelers’
Chiliboy Ralepelle

Transformasie misluk. Die stelsel misluk. En vir swart rugbyspelers is dit ’n nagmerrie.

Só glo Chiliboy Ralepelle, ’n voormalige Springbok-haker wat die afgelope week vir agt jaar geskors is nadat hy vir die derde keer positief getoets is vir die gebruik van verbode middels.

Ralepelle hou vol dat hy onskuldig is, en dat daar met sy bloedmonsters gepeuter is.

My verweer is dat as ek nie beskerming het van die oomblik dat ek die monster gegee het totdat dit by die laboratorium ontvang word nie, hoe weet ek daar is nie met die monsters gepeuter nie?

“Ek argumenteer nie oor wat hulle in my bloed gevind het nie. As dit is wat hulle gekry het, is dit so. Hulle het dit in albei die monsters gevind. My verweer is dat as ek nie beskerming het van die oomblik dat ek die monster gegee het totdat dit by die laboratorium ontvang word nie, hoe weet ek daar is nie met die monsters gepeuter nie?”

In ’n openhartige gesprek met Rapport die afgelope week het die voormalige Bulle- en Haaie-haker nie net oor sy skorsing hart oopgemaak nie, maar ook die stelsel waarin swart spelers ryp gedruk word, aangevat.

Wit spelers, sê Ralepelle, ervaar nie dieselfde druk nie. Hulle kan ná rugby “terug plaas toe gaan” en daar ’n bestaan maak, terwyl swart spelers nie daardie voorreg het nie.

Ralepelle meen Suid-Afrikaanse sporte moet Amerika navolg deur swart spelers die kans te gee om eers af te studeer voordat hulle professionele sport beoefen.

Ralepelle praat uit eie ondervinding. Hy is in 2006 deur Jake White vir die Drienasies-reeks van destyds gekies en het ’n Springbok geword al het hy minder as 10 minute se Superrugby-ervaring ná vyf Super-verskynings gehad. Sy enigste kortstondige Bok-verskyning was op sy tuisveld, Loftus Versfeld.

Op die Bok-toer aan die einde van 2006 Europa toe het Ralepelle in die eerste (Ierland) en tweede (Engeland) toets op die bank gesit sonder om speelkans te kry. In die derde toets teen Engeland het hy as plaasvervanger opgedraf. In die laaste wedstryd van die toer, teen ’n Wêreld-vyftiental, het Ralepelle die eerste swart Bok-kaptein geword, asook die jongste speler tot nog toe om die Bokke aan te voer.

“Ek kan nie nou terugkyk en dinge bevraagteken nie, want jy kies nie jouself nie. Tog moet ek die vraag vra: As jy ’n speler net twee minute se speelkans gee, is dit rêrig vir hom ’n geleentheid?

Om ’n speler te kies en dan net vir twee minute te laat speel, is ’n skande. As jy eerlik is en die speler oor jou plan inlig, sal hy dit nog verstaan. Maar dit is nooit gedoen nie.

“Om ’n speler te kies en dan net vir twee minute te laat speel, is ’n skande. As jy eerlik is en die speler oor jou plan inlig, sal hy dit nog verstaan. Maar dit is nooit gedoen nie.”

Daar is baie meer druk op swart spelers, sê Ralepelle. “Dit begin met die speler wat vanaf die platteland dorp toe trek, en dan na ’n groot skool gaan. Dit verg aan-passing. Daarna word hulle vir al hoe groter spanne gekies en die druk neem toe.

“As jy die speler nie vir die druk voorberei nie, en nie sy agtergrond in ag neem nie, kan dit die impak van ’n atoombom op hom hê.” Hy glo die oorvloed talent in Suid-Afrika maak dit maklik vir afrigters om talentvolle spe- lers weg te gooi.

“In Amerika moet jy eers universiteit toe te gaan en jou graad kry. Jy word nie gekontrakteer van skool af nie. Deur dit te doen, word te veel druk op die kind geplaas.

“Die stelsel het swart spelers in die steek gelaat. Transformasie het die toets gedop. As ons dit wil verander, moet die stelsel verander.

“Spelers moet vir ’n lewe ná rugby opgelei word. Ja, die verantwoordelikheid is ook die speler s’n, maar mense is ook mense, hulle word oorweldig met wat voor hulle is.”

Hoewel Ralepelle se appèl ’n geringe kans het om te slaag, gaan hy nie tou opgooi nie. Hy sê hy gaan aanhou terugveg in belang van ander.

“Ek is onskuldig. Ek staan daarby. Ek glo daar was ander onregte en dat die prosedure met die toetsing, en wat daarna gebeur, nie reg was nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.