Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Chiliboy-verhoor word vertraag

Chiliboy Ralepelle, wat aan die gebruik van die verbode middel seranol skuldig bevind is, se verhoor is vertraag nadat dié voormalige Springbok-haker “drie of vier keer” van regspan verander het.

Chiliboy Ralepelle se verhoor nadat hy skuldig bevind is aan die gebruik van die verbode middel seranol sal aan die einde van Augustus plaasvind. Foto: Gallo Images

Khalid Galant, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids), het Maandag by navraag gesê die verhoor sal nou teen die einde van Augustus plaasvind.

Daar is nog nie ’n datum vasgestel nie. Die verhoor sal waarskynlik in Johannesburg gehou word, sê Galant.

Seranol, ’n groeihormoon wat gewoonlik in beeste ingespuit word, is in Januarie in ’n lukrake opkikkertoets in Durban in Ralepelle se bloed gevind. In April het Saids bevestig die speler se B-monster het die uitslag van die A-monster bevestig.

Die 32-jarige Ralepelle het die bevinding teengestaan, met die gevolg dat hy verhoor sal word. Die verhoor sou aanvanklik in die middel van Mei plaasgevind het.

“Hy het toe van prokureurs verander en trek nou al by sy derde of vierde regspan,” verduidelik Galant die oponthoud.

“Ons het in ’n stadium besluit ons wil voortgaan sonder dat hy ’n regspan het, maar het toe ’n brief van sy regspan gekry.

Wat sou dit ons baat om voort te gaan sonder dat hy ’n regspan het?
Khalid Gelant

“Wat sou dit ons baat om voort te gaan sonder dat hy ’n regspan het? Ons het hulle dus tyd gegun om al die dokumente in orde te kry.”

Ralepelle is in 2014 vir twee jaar geskors nadat daar ’n anaboliese steroïed in sy bloed gevind is.

In 2010 was sy toets ook positief vir die gebruik van ’n verbode middel, maar is later onskuldig bevind omdat die Bokke se bestuur ’n aanvulling aanbeveel het wat met ’n verbode middel besmet was.

As Ralepelle nie sy onskuld in die verhoor kan bewys nie, kan dit die einde van sy loopbaan beteken.

Hy het egter nog strykdeur volgehou hy is onskuldig.

“Sodra jy weet dat jy niks verkeerd gedoen het nie, het jy vrede met jouself,” het Ralepelle vroeg in Maart op die radioprogram Marawa Sport Show gesê.

“Ek weet ek het niks ingeneem wat my loopbaan kon skaad nie.”

Dit is ’n groot raaisel hoe seranol ingeneem kon word deur iemand wat nie seranol-besmette vleis geëet het nie.
Dr. Jon Patricios

Sedert sy skorsing in 2014, het hy vleis uit sy dieet probeer sny. Sy vrou, Margaux, is ’n vegetariër en hy het dus verskeie proteïenaanvullings gebruik om te vergoed vir die tekort aan proteïen in sy dieet.

’n Sportdokter met wie Netwerk24 vroeër gepraat het, dr. Jon Patricios, het gesê dit is vir hom ’n raaisel hoe seranol in ’n atleet wat min vleis eet, se bloed kan beland.

“Dit is nie ’n steroïed nie, maar ’n estrogeen-onderdrukker, wat toelaat dat die testosteroon sterker deurkom in die liggaam,” het Patricios gesê.

“Dit word vir beeste ingespuit. Dit is ’n groot raaisel hoe seranol ingeneem kon word deur iemand wat nie seranol-besmette vleis geëet het nie.

“Dis moontlik dat dit in aanvullings kan wees, maar spelers word goed ingelig oor watter tipe aanvullings hulle mag inspuit en watter nie.”

Ajee Wilson, ’n Amerikaanse naelloper, se toets was in 2017 positief vir seranol. Sy is van enige skuld kwytgeskeld, want daar is bevind die enigste wyse waarop sy seranol kon inkry, sou deur besmette vleis kon wees.

Ralepelle kon Maandag nie om kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Haaie  |  Opkikkers  |  Chiliboy Ralepelle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.