
Die Stormers oefen vandeesweek op hul pragtige nuwe tuisveld. Foto: Gallo Images
Dit is seker so dat weinig van die spelers wat Saterdag vir die Stormers in hul voorbereidingswedstryd teen die Cheetahs opdraf, die Kapenaars se span volle sterkte sal haal, maar dit doen nie vir Chris van Zyl afbreuk aan die eer wat hom in dié kragmeting te beurt val nie.
Hy is immers die Stormers se eerste kaptein vir hul eerste wedstryd in die Kaapstad-stadion as nuwe, heeltydse tuiste. ’n Nuwe era word amptelik ingehuldig.
“Dis uiteraard ’n massiewe eer. Ek het dit al vantevore die span daar gelei toe die stadion volgepak was vir die Superheld-wedstryde, wat ook spesiaal was, maar hierdie een, met ons skuif van Nuweland Kaapstad-stadion toe, is een wat ek sal koester,” sê die veteraan-slot.
“Toe Dobbo (die afrigter, John Dobson) die span aangekondig het, was daar ’n groot trots onder die spelers. Ek kan aan baie spelers dink wat gedurende die Superrugby Unlocked- en Curriebeker-reeks hard geoefen en onder gewone omstandighede geleenthede sou gekry het, maar nie het nie.

Chris van Zyl sê dis vir hom ’n massiewe eer om die Stormers Saterdag op die Kaapstad-stadion op die veld te lei. Foto: Gallo Images
“Daar’s ’n gevoel van opwinding in die groep vir wat ons eerste wedstryd in ons nuwe tuiste gaan wees. As jy op die veld stap, besef jy dat die geriewe van wêreldgehalte is. Ons kan baie trots daarop wees en sien daarna uit om die reeks op die voorvoet te begin.”
Volgens Dobson is elke speler wat hy gekies het deel van sy planne vir die pad vorentoe.
“Ons benadering hier is nie net om te sorg dat almal wedstrydtyd kry en ook om van ons o.21-spelers blootstelling te gee nie. Ons kan binne weke in die Reënboogbeker-kompetisie speel en dis waarom die voorbereidingsreeks belangrik is om almal slaggereed te kry,” sê hy.
Ofskoon geeneen van sy senior Springbokke vandeesweek in die Stormers se groep is nie, gaan Dobson nie dié spelers in watte toedraai vir die ganse reeks nie.
“Die enigste vraag is oor wanneer ons hulle gaan kies,” sê hy.
“Ons sal dalk vir twee weke in kwarantyn moet wees en daarna teen Leinster speel. As Steven Kitshoff se laaste wedstryd op 23 Januarie was en sy eerste wedstryd daarna is eers middel-April teen Leinster, is dit ’n resep vir hom om ’n besering op te doen.
“Ons moet spelers só naby as moontlik aan wedstrydfiks kry. Die Reënboogbeker (teen die Stormers se toekomstige opposisie in die Pro16-reeks) is van kritieke belang, omdat dit spelers die kans gee om op ’n vlak te speel wat so naby as moontlik is aan toetsrugby. Vir ons om ordentlike rugby in die Reënboogbeker-reeks te kan speel, is die voorbereidingsreeks belangrik.”