Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Christchurch g’n dodemars vir Bokke nie

Dok Craven het ’n ou sêding gehad dat ’n speler wat te veel met homself gemoeid is, maar afgeskryf kan word.

Gister het Elton Jantjies my aan dié ou sêding van Craven laat dink.

Christchurch was vir Jantjies soos Nuweland in Junie.

Erg goor.

Vir die Leeus haal ek my hoed af. Hulle was nie net verbasend mededingend nie. Hulle was selfs die dominante span.

In rugby word die oorheersing van besit en gebied dikwels voorgehou as die twee belangrikste faktore om ook op die telbord te oorheers.

Die Leeus het die wêreld se beste nietoetsspan om besit en gebied ore aangesit. Sommer groot ore. Maar nie hul 60% se besit of 70% se oorheersing van gebied het enige positiewe resultaat vir hulle op die telbord gehad nie.

Deels oor ’n oorhoopse Jantjies. Deels oor die rolmaalenjin wat sy top geblaas het. En deels oor groot oomblikke wat die Leeus laat verdamp het ná foute.

In Junie se toets teen Engeland op Nuweland was Jantjies yskoud. Sedertdien het hy met ’n hele paar flink vertonings op Ellispark sy reputasie tot ’n groot mate herstel. Soveel so dat ’n mens hom weer as een van die moontlikes vir die toetse begin reken het.

Gister was hy weg van sy rugbytuiste af weer koud. Ook te gemoeid met homself en té gretig om homself te bewys.

En in Craven se woorde skryf jy so ’n speler af.

In die eerste helfte het hy sy span goed 14 punte gekos deur fatale flaters te begaan.

Nieu-Seeland se spanne het die kuns van lynspoedverdediging bemeester. Die Crusaders het dit vervolmaak. Speel jy te diep, is jy morsdood.

Gister moes die Leeus se agterspelers die bal meestal op Avbob se stoep hanteer.

Wat ons ook weer gesien het, is dat ’n goeie 9 en 10 onontbeerlik is om Nieu-Seelandse spanne te klop, wat nog te sê om in Nieu-Seeland te kan wen.

Goeie besluitneming en ’n losskakel wat direkte rugby kán speel, sonder om homself soos Jantjies voortdurend in niemandsland te bevind, is ononderhandelbaar. Dis min of meer wat Faf de Klerk en Handré Pollard die Springbokke bied noudat De Klerk geleer het om veel beter en meer oordeelkundig te skop.

So doeltreffend as wat die Cru­saders gister was, en jy kan sommer dinamies as nog ’n eienskap daarby voeg, was die Leeus se agttal oorheersend.

En dit is iets om oor te juig as ’n mens vorentoe kyk na die toetse wat kom.

Dis nou buiten vir die lynstaanrolmale wat ingeplof het teen opposisie wat baie duidelik ’n gevegsplan bedink het om dit onskadelik te stel.

Vir die res het die Leeus Suid-Afrika se diepte aan gehalte-voorspelers onderstreep. Dít is die goeie nuus.

Ons het vir ’n slag weer stutte, hakers en slotte wat op toetsvlak nie met hulle laat mors nie. En dit beteken ’n vaste vyf wat oorheersend is, en wat selfs Nieu-Seeland ’n baie harde tyd kan gee.

Die ander ding is dat daar ook nie ’n tekort aan diepte en verskeidenheid is nie.

Solank die pes van beserings ons nie tref nie, sal Rassie Erasmus in staat wees om oor die volgende klompie weke ’n formidabele agttal met ’n ewe formidabele plaasvervangersbank te vestig.

En dit voorspel net goed vir 2019. Ook so vir die toetse in die Rugbykampioenskap.

’n Agttal wat 80 minute lank kook, vereis ’n aanpassing van die balans van hoe direk jy speel teenoor riskante hoëspoed-spel.

Die druk waaronder die Cru­saders se pak was, en die fisieke eise wat feitlik strykdeur aan hulle gestel is, is in dié opsig dalk ’n kopswaaier dat ons meer direk moet speel.

As gister se rugby voorspraak doen vir môre s’n, is die boodskap taamlik eenvoudig: Hou dit ongekompliseerd.

Toe die Crusaders se breier, Scott Robertson, in die 70ste minuut sy oë na bo geslaan het met ’n gepaardgaande diep sug nadat sy span gaan druk het, was dit ook simbolies van respek vir teenstanders wat voor gemaai het. Net so was Sam Whitelock se emosionele vreugde ná die eindfluitjie ’n simboliese kompliment vir die Leeus.

Daar was respek waar te neem.

My aanvoeling is dat ons dit meer kere gaan ervaar. Sommer nog binnekort. En ook as die wenspan.

Meer oor:  Christchurch  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.