Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Folau: Christen-drukgroep ‘mors asem’

Peter V’landys, grootbaas van die van die Australiese Rugbyliga-kommissie, sê die Australiese Christen-drukgroep (ACL) mors sy tyd deur druk op die NRL te plaas om Israel Folau se terugkeer goed te keur en moet eerder fokus op die stryd teen armoede en ongelykheid.

Israel Folau het voorheen gesê hy sou graag na die NRL wou terugkeer. Foto: Getty Images

SMH.com berig die ACL het vandeesweek met ’n veldtog begin ter ondersteuning van voormalige Wallaby-ster se terugkeer na die NRL en gebruik die hutswoord #lethimplay.

Die drukgroep het ’n petisie aanlyn begin, ’n volbladadvertensie in The Daily Telegraph uitgeneem en moedig ondersteuners aan om baniere na wedstryde saam te vat. Volgens die ACL wil hy ook televisiereklame en advertensieborde inspan.

V’landys het die veldtog bevraagteken en sê geen NRL-span het aansoek gedoen vir Folau om terug te keer nie.

“Die ACL mors sy geld en hulpbronne op volblad-advertensies, want daar is geen aansoek (om Folau te laat terugkeer) nie,” sê V’landys.

Enige NRL-span wat gretig is om met Folau oor ’n kontrak te onderhandel, moet eers ’n formele aansoek aan die beheerliggaam rig.

“Daar is baie belangriker dinge in die lewe waarvoor die ACL hom kan beywer, soos (’n einde aan) armoede en ongelykheid,” sê V’landys.

Ondersteuners word aangemoedig om met baniere soos hierdie een by wedstryde op te daag. Foto: Getty Images

Martyn Iles, uitvoerende hoof van die ACL, sê die veldtog is sonder Folau se kennis begin.

“Die doel van die advertensies is om meer mense oor die veldtog in te lig,” sê hy.

“Ons hoop eenvoudig die NRL laat een van die spanne toe om Israel ’n kontrak aan te bied. Dit is tans die probleem. Die realiteit is dat daar spanne is wat in sy dienste belangstel.”

Volgens V’landys is dit piekfyn as ondersteuners van die veldtog by wedstryde met baniere wou betoog, maar “hulle mors hul asem.

“Ek is die eerste een wat vryheid van spraak aanmoedig, maar op die oomblik is daar nie ’n span wat ’n aansoek gedoen het vir Israel Folau nie.

“Israel Folau, soos enige ander speler, moet ’n proses volg.”

The Sydney Morning Herald het in ’n peiling van NRL-spanbase bevind slegs 36% ondersteun Folau se terugkeer.

Folau (30) is tans in Brisbane saam met sy vrou, Maria, en hul eerste kind.

Folau is in 2019 deur Rugby Australië afgedank weens sy uitlatings op sosiale media dat “dronklappe, homoseksuele, egbrekers, leuenaars, hoereerders, diewe, ateïste en afgodsdienaars” vir die hel bestem is. – Sportredaksie

Meer oor:  Catalans Dragons  |  Nrl  |  Acl  |  Israel Folau  |  Rugbyliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.