Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Claassen was een van SA se grotes’

Johan Claassen was een van die grootste rugbymense wat ons land nog opgelewer het, sê die voormalige Springbok-kaptein Hannes Marais.

Die Bok-legende Johan Claassen soos hy in sy speeldae gelyk het. Foto: Springbok Sage

Claassen is Sondagmiddag in ’n hospitaal in Pretoria in die ouderdom van 89 jaar oorlede.

Hy het as speler, afrigter, keurder, spanbestuurder én beampte diep spore in Suid-Afrikaanse rugby getrap.

“Hy was ongelooflik lief vir die spel. Hy was ’n eerbare man en ek het net die grootste waardering vir wat hy vir ons rugby beteken het,” sê Marais.

Marais was die kaptein van die Springbokke wat in 1974 die reeks teen die Britse en Ierse Leeus in Suid-Afrika verloor het.

Claassen was toe die afrigter en hy was in daardie tyd onder geweldige druk.

“Johan het my ’n paar jaar gelede gebel en verskoning gevra dat hy my arm gedraai het om daardie jaar weer te speel nadat ek reeds uitgetree het,” sê Marais laggend.

“Hy het gesê hy is spyt dat hy al my goeie prestasies opgedinges het. Dis die soort mens wat hy was.”

Claassen is in 1929 in die Prins Albert-omgewing in die Karoo gebore.

Hy het later na Christiana verhuis en nog later na Potchefstroom.

Ek het dit nie juis geniet om kaptein te wees nie en ek dink ek het beter gespeel wanneer ek nie die kaptein was nie, maar dit was ’n eer om die Bokke aan te voer.
Johan Claassen

In Potchefstroom het hy as 20-jarige sy debuut as slot vir die destydse Wes-Transvaal gemaak.

Hy sou uiteindelik 105 wedstryde vir Wes-Transvaal speel en later ook die unie se president word.

Claassen het sy debuut vir die Springbokke in 1955 teen die Leeus gemaak.

“Ek was nie so emosioneel nie. Ek het dikwels in my lewe gewens dat ek meer emosioneel kon wees, maar ek het dit nog altyd moeilik gevind om my emosies uit te druk,” het Claassen jare later gesê.

Dié jong slot het gou opgang gemaak en is die volgende jaar as kaptein aangewys van die Bok-span wat teen Frankryk gespeel het.

“Manne, dit sal ’n nasionale ramp wees as ons teen Frankryk verloor,” het Claassen voor die afskop aan sy spanmaats op Nuweland in Kaapstad gesê.

Johan Claassen (heel regs) as jong rugbybeampte saam met van links Ian Kirkpatrick, Boy Louw, Flappie Lochner en Maurice Zimmerman in 1966. Foto: Springbok Triomf

Die Bokke en Hane het gelykop gespeel met 3-3 en die keurders het agt veranderinge aan die Bokspan gemaak.

“Daardie tyd was daar nie ’n afrigter vir die tuistoetse nie. Dit is aan my as kaptein oorgelaat om binne 48 uur hierdie groep diverse manne in ’n span te probeer saamsnoer,” het Claassen gesê.

Die Bokke het verloor en hoewel Claassen sy plek in die span behou het, is hy as kaptein gepos.

Hy het eers weer in 1961 die Bokke aangevoer toe hulle teen Ierland gespeel het.

Van die 28 toetse wat hy gespeel het, was hy eindelik nege keer die kaptein.

“Ek het dit nie juis geniet om kaptein te wees nie en ek dink ek het beter gespeel wanneer ek nie die kaptein was nie, maar dit was ’n eer om die Bokke aan te voer,” het Claassen gesê.

Hy het in 1962 as speler uitgetree en het toe as keurder en as afrigter goeie werk verrig.

As Bok-afrigter was hy in reekse teen die Leeus (1968), Frankryk (1968 en 1971), die All Blacks (1970) en Australië (1971) aan die wenkant.

Claassen was teen die einde van 1974 ook die Bokke se breier wat in Frankryk getoer het.

Op die toer het hy egter baie siek geword en Ian Kirkpatrick moes by hom oorneem.

’n Foto van Johan Claassen as ouer man. Foto: The Springbok Captains

As spanbestuurder was Claassen nie altyd so gewild nie. Gedurende die Bokke se omstrede betogertoer deur Nieu-Seeland in 1981 het veral die Nieu-Seelandse media hom as “bot” beskryf.

Daar was toe ook stories dat hy glo as lid van die Broederbond nie vir Wynand Claassen (nie familie nie) as kaptein wou gehad het nie.

Deur die jare is Johan Claassen al baie geprys vir sy aandeel om SA rugby te bevorder.

Flappie Lochner, op ’n tyd die sameroeper van die nasionale keurkomitee, het hom as “’n man uit een stuk” beskryf.

“Hy het die vermoë om alles uit elke lid van die span te haal. Dit kan toegeskryf word aan sy sterk persoonlikheid en die pragtige voorbeeld wat hy stel aan die spelers wat hy moet lei,” het Lochner gesê.

Lochner het Claassen verder as “gedissiplineerd” en met ’n “goeie humorsin” beskryf.

Volgens hom was Claassen ’n “goeie taktikus” wat as speler, keurder en afrigter ’n “sieraad” vir die spel en vir sy land was.

Dok Danie Craven, jare lank die grootbaas van SA rugby, het Claassen as een van die beste spelers wat nog vir die Bokke gespeel het, uitgesonder.

“Hy was iemand op wie jy kon staatmaak,” het Craven gesê.

* Bykomende bronne: The Springbok Captains; Springbok Triomf; The Craven Tapes; Barbed Wire Boks.

Meer oor:  Johan Claassen  |  Oud-Springbok  |  Oorlede  |  Hannes Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.