Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cobus loof eg Suid-Afrikaanse wenresep

Die “eg Suid-Afrikaanse” resep waarmee die Springbokke vanjaar se Wêreldbeker-toernooi gewen het was vir die oud-vaskopstut Cobus Visagie ’n riem onder die hart.

Cobus Visagie destyds in sy speeldae.Foto: Getty Images

“My frustrasie vir die afgelope 20 jaar was dat die Springbokke nie afgerig was op hul groot sterkpunt van oorheersende voorspelerspel nie. Ons het die Australiërs en Nieu-Seelanders vir te lank nagedoen,” sê Visagie, wat tussen 1999 en 2003 vir Suid-Afrika 29 toetse gespeel het.

Visagie meen die groot troefkaart was die ses voorspelers op die plaasvervangersbank, wat die Bokke in staat gestel het om een vaste vyf met nog een af te los.

“Ons afrigters was innoverend en het ’n strategie uitgewerk wat ons wapens die beste pas. Afrigters wêreldwyd sal hul voortande gee vir Suid-Afrika se groot en atletiese voorspelers. Dit was ’n puik strategie wat geleenthede geskep het,” sê Visagie.

“As jou vaste vyf tot só ’n mate oorheers, skep dit geleenthede. Dis waarom Duane Vermeulen (agtsteman) en Faf de Klerk (skrumskakel) só goed gelyk het. Jy speel ’n heel ander tipe rugby as jy doodseker is van die platform wat jy gaan kry.”

Die Bokke se oorheersing in die skrums in hul eindstrydsege van 32-12 oor Engeland het nie vir Visagie verbaas nie.

Engeland het vroeg in die wedstryd hul vaskopstut Kyle Sinckler aan ’n besering afgestaan. Hy is deur ’n gerekende skrumwerker in Dan Cole vervang.

“Ek was nog altyd van mening dat Mako Vunipola (die Engelse loskopstut) en Sinckler kwesbaar is in die skrums. In die moderne spel is daar nie meer soveel spelers wat in die skrums uitstaan nie. Vunipola en Sinckler se swakpunte word nie in die Engelse liga uitgewys nie, maar hulle het al in Europese wedstryde hul rieme styfgeloop,” sê Visagie.

“Cole was vir lank ’n baie goeie skrumwerker, maar het ’n rukkie terug ’n nekbesering opgedoen en was sedertdien nog nooit weer dieselfde nie. Hy het op klubvlak steeds goed gevaar, maar was nog nooit ’n stut wat vir 80 minute kon speel nie.

“Selfs al was Sinckler enduit daar sou die uitkoms in die skrums dieselfde gewees het.”

Visagie meen dis juis waar die Bokke se sterkpunt só goed gewerk het.

“As jy ’n vaskopstut is wat teen Tendai Mtwarira moet skrum met die wete dat die Bokke nog in die 50ste minuut vir Steven Kitshoff gaan opstuur, gaan jy jou wedstryd beplan sodat jy later nog iets in die tenk oor het,” sê hy.

“Engeland het ook ’n kans gewaag met die balans in sy pak deur vir Courtney Lawes eerder as George Kruis as Maro Itoje se slotmaat te kies. Kruis is sterker in die skrums en by Saracens rugsteun hy en Itoje vir Vunipola in die skrums.

“Rugby is ’n spel waar balans ter sprake is. Dit gaan nie net oor een aspek nie. Engeland het ’n kans gewaag teen Suid-Afrika.”

Visagie het ook die Bok-haker Bongi Mbonambi geloof.

“Uit ’n tegniese oogpunt moet baie krediet aan Bongi gaan vir sy ingooiwerk in die lynstane. Dis ’n ongelooflike stukkie statistiek dat die Bokke net een lynstaanbal deur die toernooi verloor het. Bongi was in elke faset van hakerspel ongelooflik,” sê Visagie.

“Om slegs een lynstaanbal te verloor, spreek van ’n span wat ongelooflik goed afgerig is en spelers se vermoë om hul plan goed uit te voer en druk te hanteer.”

Meer oor:  Springbokke  |  Wb-Toernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.