Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Húlle kry dalk kans in nuwe Bok-15-tal
Cobus Reinach kan Saterdag op Loftus Versfeld teen Argentinië ’n laaste kans kry om Rassie Erasmus te oortuig om hom saam te vat Japan toe. Foto: Getty Images

Oorsese Bokke soos Cobus Reinach, Marcell Coetzee, Rynhardt Elstadt en Vincent Koch kan Saterdag in Pretoria ’n laaste kans kry om Rassie Erasmus te oortuig om hulle in sy Wêreldbeker-groep in te sluit.

Erasmus, die Bok-breier, kan met ’n ganse nuwe beginspan in die toets teen Argentinië op Loftus Versfeld speel, as die een wat verlede week die Rugbykampioenskap in Salta beklink het.

Erasmus het geen geheim daarvan gemaak nie dat hy Saterdag se toets wil gebruik om soveel moontlik spelers kans te gee om hom te beïndruk voordat hy later vandeesmaand die groep vir die skouspel in Japan aankondig.

Reinach kan vir die eerste keer onder Erasmus se breierskap kans in die beginspan kry, met Herschel Jantjies wat op die plaasvervangersbank kan sit. As Erasmus besluit om drie skrumskakels Japan toe te vat, sal hulle albei waarskynlik saam met Faf de Klerk vliegkaartjies Tokio toe kry.

Marcell Coetzee hol weg vir Kwagga Smith tydens ’n Bok-oefening in Nieu-Seeland. Foto: Getty Images

Die kans is wel goed dat die Bok-breier slegs een van Reinach of Jantjies as De Klerk se adjudant sal saamneem, om sodoende plek vir bykomende dekking in ’n ander posisie te maak in sy groep van 31. Cheslin Kolbe kan in ’n noodgeval op nr. 9 uithelp.

As dít die geval is, sal Reinach Saterdag vir ’n plek in die groep speel nadat Jantjies sy kanse in die Rugbykampioenskap aangegryp het.

Siya Kolisi, wat van ’n besering terugkeer, kan die span Saterdag aanvoer, maar sal na verwagting nie baie lank speel nie. Marco van Staden sal hom dan vervang en saam met Coetzee en Elstadt, was op onderskeidelik agtsteman en steelkantflank kan begin, poog om Erasmus te oortuig hy moet as ’n bykomende losvoorspeler saamreis.

Die Bokke kan vir die derde agtereenvolgende wedstryd met ’n splinternuwe voorry speel. Thomas du Toit, Schalk Brits en Vincent Koch sal wil voortbou op die goeie skrumvertoning wat hul kamerade die naweek in Salta gelewer het.

Nóg ’n nuwe voorry, Lizo Gqoboka, Scarra Ntubeni en Wilco Louw, sal waarskynlik op die bank sit. Ntubeni het hom vandeesweek by die Bok-groep aangesluit.

Wanneer Erasmus oor sy WB-groep kopkrap, sal hy moet besluit of hy vier spesialis-slotte wil insluit en of hy met drie slotte wil volhard, met Pieter-Steph du Toit wat daar kan uithelp in ’n noodgeval.

Rynhardt Elstadt tydens sy Bok-buiging teen Australië. Foto: Gallo Images

As hy op laasgenoemde besluit, kan Saterdag ’n “uitspeelstryd” tussen die waarskynlike begin-slotte, RG Snyman en Lood de Jager, om ’n plek in die WB-groep wees.

Onder die res van die agterspelers is Elton Jantjies en Jesse Kriel reeds verseker van ’n WB-plek, terwyl die regtervleuel Sbu Nkosi se kanse ook baie stewig is.

Die heelagter, Warrick Gelant, linkervleuel, Dillyn Leyds, en binnesenter, André Esterhuizen, het almal báie om voor te speel.

Slegs drie spelers wat in die 23-tal was in Salta, sal waarskynlik weer in Pretoria speel.

Hulle is Kwagga Smith, Jantjies en Frans Steyn, wat almal op die bank kan sit.

Steyn se kanse om WB toe te gaan, is betreklik goed. Tog is dit interessant dat hy moontlik nie Saterdag ook van die afskop af kans gaan kry om indruk te maak nie.

* Moontlike Bok-23-tal: Warrick Gelant, Sbu Nkosi, Jesse Kriel, André Esterhuizen, Dillyn Leyds, Elton Jantjies, Cobus Reinach, Marcell Coetzee, Rynhardt Elstadt, Siya Kolisi, Lood de Jager, RG Snyman, Vincent Koch, Schalk Brits, Thomas du Toit. PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni, Lizo Gqoboka, Wilco Louw, Marvin Orie, Marco van Staden, Kwagga Smith, Herschel Jantjies, Frans Steyn.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.