Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cobus Reinach in Engeland vereer

Het Suid-Afrika werklik ’n gebrek aan diepte op skrumskakel of word daar nie op die regte plekke gesoek nie?

Cobus Reinach sit in Desember voet in die hoek op pad doellyn toe vir die Northampton Saints in hul wedstryd teen die Exeter Chiefs. Foto: Getty Images

Cobus Reinach, wat Woensdagaand as die Engelse Premierliga se Speler van die Maand vir Desember aangewys is, het die Bokke se voorkeurskrumskakel, Faf de Klerk, om dié toekenning uitgestof.

Harlequins se steelkantflank Alex Dombrandt was die ander kandidaat.

In ’n verklaring deur Premiership Rugby word gesê dat Reinach “nuwe lewe geblaas het” in ’n ylende Northampton Saints.

Reinach (28) het in Desember twee onvergeetlike drieë gedruk in wedstryde teen die Exeter Chiefs en Worcester Warriors.

“Hy is wat spelpeil betref die voorste skrumskakel in die Premierliga en ongelooflik belangrik vir die Northampton Saints,” sê Ugo Monye, die voormalige Engelse vleuel, wat Reinach fyn dophou in sy rol as kommentator by BT Sport.

“Hy het nuwe lewe in die Saints geblaas en ons weet hoe mededingend hierdie liga is met elke span wat die ander kan klop. Sy spelpeil in die agtereenvolgende wedstryde teen Worcester en Exeter – met twee onderskepdrieë – was werklik indrukwekkend.

“As jy een van die voorste spanne klop, kry jy meer as net die sege. Dit rus jou toe met die selfvertroue dat jy op hul vlak kan wees. Ons weet hoe belangrik ’n skrumskakel binne daardie konteks is.”

Terwyl dit die drieë is wat die oog tref, het Monye ook waardering vir Reinach se verdediging.

“Reinach is ewe goed op die verdediging as op die aanval. Sy dekverdediging, met ’n duikslag op Bryce Heem teen Worcester, het die gang van die wedstryd verander. Het Heem gedruk, sou Worcester in ’n gemaklike posisie gewees het, maar daardie duikslag, en die onderskepdrie teen Exeter, het Reinach laat uitstaan,” sê Monye.

Reinach is die eerste Suid-Afrikaner sedert Ruan Ackermann, in November 2017, wat dié toekenning kon wen.

* Reinach het al 10 toetse vir Suid-Afrika gespeel, waarvan die laaste in 2015 teen Argentinië in Buenos Aires was.

Embrose Papier en Ivan van Zyl was in 2018 De Klerk se Bok-adjudante.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.