Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cobus Reinach wél op Rassie se radar

Cobus Reinach, die Springbok-skrumskakel wat hom sedert 15 Augustus 2015 in die toetswildernis bevind, het onthul dat Rassie Erasmus, die Bok-afrigter, met hom gesprekke gevoer het oor die moontlikheid om weer vir Suid-Afrika te speel.

Reinach was ook in verbinding met ander lede van Erasmus se bestuurspan, wat daarop dui dat hy beslis ’n kandidaat is om die Bokke se Wêreldbeker (WB)-groep te haal.

Die Northampton Saints se Springbok-skrumskakel, Cobus Reinach, ken die pad doellyn toe.Foto: Getty Images

Die WB-toernooi vind van 20 September tot 2 November in Japan plaas.

“Ja, ek het al kontak met die Bokke gehad,” het Reinach, wat sy ma in Bloemfontein besoek, by navraag geantwoord.

“Elke speler droom daarvan om vir sy land uit te draf by ’n WB-toernooi en almal werk so hard as wat hulle kan om daar te kom.”

Reinach (29), wal al tien toetse gespeel het, is aan die einde van die Engelse Premierliga-seisoen as die Saints se Speler van die Jaar aangewys. Daarbenewens het hy die tweede meeste stemme op hom verenig toe Engelse Premierliga-spelers gevra is om hul Speler van die Jaar aan te wys. Hy is ook by die Premierliga se Droomspan van die Seisoen ingesluit.

Verder was dié nr. 9 was met 12 drieë die gesamentlike voorste driedrukker in die liga saam met Denny Solomona, vleuel van die Sale Sharks.

Reinach, ’n oudleerling van Grey-kollege in die Rosestad, is nederig oor sy prestasies van die afgelope seisoen.

“Dit was vir my ’n baie groot eer om as Speler van die Jaar aangewys te word. Northampton Saints is ’n great klub met ongelooflike spelers, so dit maak dat die toekenning soveel meer beteken,” sê Reinach.

"Om tweede te eindig ná Danny Cipriani was ’n baie groot eer."

“Dan dink ek vir enigiemand is die Spelers se Speler van die Jaar-prys die grootste omdat dit uitsluitlik deur die stemme van jou mede-Premierligaspelers bepaal word.

“Om tweede te eindig ná Danny Cipriani was ’n baie groot eer. Hy is ’n ongelooflik begaafde speler.”

Die oud-Bloemfonteiner het ’n kontrak van drie jaar met die Saints gesluit en begin in die komende Europese seisoen met sy laaste jaar.

“Nadat my kontrak aan die einde van volgende seisoen verstryk, sal ek kyk watter opsies tot my beskikking is.”

Hy gee toe dat hy as gevolg van die toestande in Engeland sy spel moes aanpas.

“Jou skrumskakel moet baie meer beheer neem daar (Engeland), want die toestande maak dit nie altyd moontlik om net vinnige rugby te speel nie. Wanneer dít gebeur, moet die skrumskakel goeie besluite neem en die spel in die regte rigting stuur.”

En wat hou die toekoms vir die Reinachs ná die Northampton Saints in?

“ ’n Mens weet nooit wat die toekoms inhou nie. Ek en Frances (sy vrou) en Righard (hul drie maande oue seuntjie) is tans baie gelukkig in Engeland, maar ek en my vrou is ook baie lief vir Suid-Afrika. Ons is oopkop oor die toekoms. Ons sal kyk wat op daardie tydstip (wanneer die kontrak verstryk) die beste vir ons gesin is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.