Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Coenie-hulle laat Bokke se stutspens bult

Die Springbokke se stutspens raak al hoe voller en Rassie Erasmus sal vir die Rugbykampioenskap se toetse uit ’n goeie voorraad voorrymanne kan kies.

Coenie Oosthuizen, Vincent Koch en Trevor Nyakane, wat almal op die krukkelys was en sonder wie Erasmus in die drie toetse teen Engeland moes klaarkom, is weer perdfris, of ten minste op die herstelpad.

Coenie Oosthuizen. Foto:Steve Haag/Gallo Images
Vincent Koch
Marcell Coetzee
Marco van Staden

Oosthuizen hoop om teen volgende week aan kontakoefeninge deel te neem. Hy oefen ná ’n kniebesering reeds weer voluit saam met sy Haaie-spanmaats.

“Ek hoop om teen einde Julie, of begin Augustus reg te wees,” het Oosthuizen aan Rapport gesê.

“Natuurlik sal dit altyd ’n droom bly om vir my land te speel, maar ek sal myself eers weer moet bewys. En dit moet ek nou by die Haaie doen.

“Die manne wat op die oomblik speel, verdien hul plekke. Niks kom as vanselfsprekend nie.”

Oosthuizen was tot voor die kniebesering, wat hy einde verlede jaar teen Ierland opgedoen het, beskou as Suid-Afrika se voorste vaskop. Frans Malherbe, Wilco Louw en Thomas du Toit was die vaskoppe teen Engeland in die afwesigheid van Oosthuizen, Koch en Nyakane.

Koch is ook op die herstelpad. Nadat hy Saracens in die eindstryd van die Engelse Premierliga verteenwoordig het, moes hy ’n operasie vir ’n beseerde armspier ondergaan.

Hy het aan Rapport gesê sy arm beweeg goed en hy is gemaklik. Sy dokter en fisioterapeut is tevrede met die vordering wat hy maak.

“Ek behoort in Augustus reg te wees,” het Koch gesê.

“Ek sal in Julie begin hardloop en ’n paar weke daarna kontak vat. Ek gaan weer hard aan my fiksheid werk. My fiksheid was die afgelope seisoen baie goed en dit was goed vir my spel.

“As Rassie my weer ’n kans gee, sal ek alles doen en gee om reg en beskikbaar te wees. Ek het reeds vir Rassie gesê ek is 100% aan boord met sy planne en wil graag speel.

“Dit is natuurlik moeilik om vir die ouens te kyk terwyl jy beseer is. Ek is egter baie trots op hulle, veral op die manier waarop die ouens elkeen hul deel gebring het. Hulle maak die land weer trots.

“Ek brand om weer te speel. Ek wil deel wees van die nuwe era. Ek kan sien dat Rassie iets nuuts gebring het en dat die spelers dit geniet. Hulle werk kliphard vir mekaar.

“Dit sal vir my ’n eer wees as ek ’n oproep kry om weer deel van die Bokke te word.”

Nyakane was in die beginspan vir die eerste toets teen Engeland voordat hy ’n ribbesering opgedoen en toe onttrek het.

Hy hoop om binne die volgende maand weer voluit te kan oefen.

  • Marcell Coetzee kan dalk ook weer in die Bok-prentjie kom.

Hy is een van die oorsese spelers met wie Erasmus vroeër vanjaar gepraat het.

Coetzee oefen weer voluit saam met sy Ierse klubspan, Ulster. Hy sal gereed wees vir Ulster se Pro14-wedstryde en sal minstens vir die einde van die jaar se Bok-toer na Europa oorweeg kan word.

Erasmus sal ook spelers soos Marco van Staden, Cobus Wiese, Cyle Brink, Damian Willemse en Salmaan Moerat met belangstelling dophou.

Van Staden was aanvanklik in die Bok-groep vir die toets teen Wallis en die reeks teen Engeland voordat hy sy enkel beseer het.

Hy is toe op die laaste nippertjie deur Nizaam Carr vervang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.