Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Coenie pak ook sy tokse vir Japan
Die Cheetahs se veelsydige agterspeler Coenie van Wyk, sal voortaan sy rugby vir die Brave Lupus in Japan speel. Foto: GALLO IMAGES

Die Cheetahs se veelsydige agterspeler Coenie van Wyk is op pad Japan toe waar hy met sy eertydse afrigter by die Pumas, Jimmy Stonehouse, herenig sal word.

Van Wyk het ’n kontrak van twee jaar met die Brave Lupus geteken en val reeds op 1 Junie by hulle in.

Behalwe vir die geld wat hy in Japan gaan verdien, gaan hy omdat hy rugby wil speel, het hy verseker.

“By die Cheetahs sou ek nie vanjaar Superrugby-speelkans gekry het nie, en dit is ook een van die redes hoekom Franco (Smith, Cheetah-afrigter) my na die Griffons gestuur het, om wedstrydtyd te kry.

“Ek is teleurgesteld dat ek nie speelkans gekry het nie, maar ek is nie kwaad nie. Elke afrigter het maar sy redes hoekom hy sekere spelers laat speel of nié,” het Van Wyk gesê.

Eerste op sy lys sal wees om Japannees onder die knie te kry.

Stonehouse het uit Japan laat weet hy sien baie uit na Van Wyk se koms.

“Ek dink Coenie sal baie goed aanpas in Japan met die vinnige spel. Ons benodig aanvallende spelers op losskakel en heelagter. Coenie kan gemaklik in albei posisies inpas.

“Spelers moet speelkans kry om te ontwikkel en Coenie en Uzair Cassiem (tans flank/agtsteman by die Cheetahs) het by die Pumas begin en daar het hulle beter geword omdat hulle elke week gespeel het,” het Stonehouse gesê.

“Coenie is een van daai spelers wat floreer indien ’n afrigter vertroue in hom het. Met die verlies van Frans Steyn kan Coenie se skopvoet vir ons baie beteken. Hy kan natuurlik ook in die toekoms vir die Sunwolves speel. Hy is nog jonk en kan selfs in die toekoms vir Japan uitdraf, so daar is baie geleenthede.

“Hy het vir my baie beteken in my loopbaan en ek is dankbaar ek kan nou vir hom iets beteken. In Suid-Afrika was hy op koers na nêrens.

“Ek weet nie wat Franco in betrokke posisies soek nie, dalk is Coenie se spelpeil nie op standaard nie, maar vir my is hy Superrugby-gehalte. Dit het hy al by die Leeus gewys.”

Smith het gesê hy wou nog altyd net die beste vir sy spelers hê, en dit is hartseer dat Van Wyk vertrek, veral omdat hy ’n goeie bydrae tot Vrystaat-rugby gemaak het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.