Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Allister: 'Ek klink soos 'n plaat wat vashaak'
Raadop? Allister Coetzee sê die Bokke se swak dissipline in Brisbane was een van sy groot frustrasies.Foto: Reuters

“Ek klink nou soos ’n plaat wat vasgehaak het, maar ons dissipline was nie goed genoeg nie.”

Só het Allister Coetzee, die Springbok-afrigter, gereageer nadat hy Saterdagaand in Brisbane gevra is wat skeefgeloop het in Suid-Afrika se nederlaag met 23-17 in die Rugbykampioenskap teen Australië.

Dít, tesame met swak vaardighede in kontak en selfs vrotter taktiese skopwerk was vernaamste redes wat deur Coetzee vir dié teleurstelling in die Suncorp-stadion uitgelig is.

Dít het die Aussies toegelaat om terug te veg in ’n wedstryd waarin die Bokke rustyd ’n voorsprong van 14-13 gehad het, nadat hulle vroeg ná drieë deur Warren Whiteley en Johan Goosen met 14-3 voor was.

Die Bokke se verbeterde intensiteit met tye, is deur swak vaardighede in kontak ongedaan gemaak. Coetzee was agterna baie teleurgestel daarin.

Hy was veral omgekrap omdat besit in kontak binne die Aussies se kwartgebied afgestaan is en geen strafskoppe afgedwing is nie. Dit nadat die Suid-Afrikaners in die laaste paar minute van die wedstryde verskeie kanse gehad het om hul tweede sege in die reeks te behaal.

Sy span se taktiese skopwerk was ’n nog groter teleurstelling vir hom.

“Die plan was glad nie om op Israel Folau te skop nie. Dalk was dit druk wat dit veroorsaak het. Ons het eenvoudig te veel rugby in ons eie halfgebied gespeel.

“Ek is egter realisties oor die jong skakelpaar wat ons (in Elton Jantjies en Faf de Klerk) het. Hulle sal net deur ervaring verbeter. Hul uitvoering moet verbeter.”

Coetzee het dit nie agterna vermeld nie, maar die Bokke het tans nie genoeg baldraers soos ’n Duane Vermeulen, Willem Alberts en Bismarck du Plessis van ouds om momentum op die aanval te verskaf nie.

Die Wallabies het die Suid-Afrikaners eenvoudig te maklik voor die voordeellyn platgetrek. Sodoende kon die Suid-Afrikaners nie enige noemenswaardige momentum opbou nie. Dis iets waaraan die Bok-afrigter aandag moet gee as hulle langer as ’n krag in wêreldrugby gereken wil word.

Die balans van die Suid-Afrikaanse lostrio lyk ook nie na een wat enige span slapelose nagte sal gee nie.

“Kom ons gee ook Australië krediet, hulle was baie goed in ’n wedstryd waarvoor ons werklik oorgehaal was”

Coetzee is bewus dat sy span se grootste uitdaging van die jaar volgende naweek in Christchurch teen die All Blacks wag. Die Bokke se selfvertroue is ná drie nederlae vanjaar geknou. Teenoor hulle lyk die All Blacks onstuitbaar.

“Nieu-Seeland is ’n span wat goed op dreef is en oor goeie vaardighede beskik. Hulle is vol selfvertroue. Dit gaan baie taai wees.”

’n Verdere bekommernis vir die Bokke is dat drie van hul spelers, Lood de Jager, Faf de Klerk en Johan Goosen, agterna vir skanderings gestuur is. Die erns van hul beserings, en watter beserings hul opgedoen het, sal eers later bekend wees.

Die Bokke vlieg Sondag van Brisbane na Sydney en van daar na Nieu-Seeland.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.