Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Coetzee kry 8 koppe minder
Allister Coetzee.Foto: DENVOR DE WEE

Allister Coetzee se Springbok-bestuurspan sal sowat 50% kleiner wees as sy voorganger, Heyneke Meyer, se groep van 20 hulpe en spesialiste wat hom by verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Engeland bygestaan het.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het ná navorsing die afgelope twee jaar besluit om Coetzee s’n tot 12 bestuurslede te verklein – agt minder koppe as wat Meyer gehad het.

Saru het die rol van elke bestuurslid in die Meyer-era in besonderhede ontleed met die doel om Coetzee se span meer vaartbelyn te maak en oorvleueling te voorkom.

Saru is die eerste nasionale beheerliggaam van die wêreld se top-rugbylande wat afskaal. Die verwagting is dat van die ander lande sal volg en hul bestuurspanne van 20 tot 18 lede verder sal verklein.

Die afskaling sal tot ’n finansiële besparing lei, maar ook doeltreffende bestuur in die Bok-bestuurspan verseker.

Coetzee sal veral ’n belangrike sê in die aanstelling van sy hulpafrigters hê. Die naam van die gewese Blitsbok Mzwandile Stick word as sy moontlike agterlynafrigter genoem. Stick doen tans dieselfde taak by die Southern Kings.

Rapport verneem dat Coetzee se aanstelling ’n gedane saak is en dat die aankondiging blote formaliteit is.

Saru het glo wel ’n Plan B én C indien Coetzee se aanstelling ontspoor.

Ofskoon dit hoogs onwaarskynlik is dat dit sal gebeur, het die beheerliggaam ’n tweede naam waarmee onderhandel sal word.

Sou onderhandelinge ook nie met dié kandidaat suksesvol wees nie, sal dit Rassie Erasmus en Saru se mobiele afrigtingspan se taak word om die Bokke minstens vir die toetse teen Ierland te brei.

Oregan Hoskins het ná die vergadering van Saru se hoofraad gesê dat die “papierwerk nog (met Allister se aanstelling) gedoen moet word”.

“Dis niks groot nie, maar dit is sake soos met sy klubspan in Japan wat nog afgehandel moet word.

“Dis daarom belangrik dat ons uit respek vir sy klubspan eers op 12 April ’n formele aankondiging doen,” het Saru se president gesê.

“Daar is reeds baie werk agter die skerms (deur Rassie en Saru se mobiele afrigtingseenheid vir Allister) gedoen en hy hoef nie van vooraf te begin nie.”

Meer oor:  Allister Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.