Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Coles maak geskiedenis vir All Blacks
Dane Coles in aksie vir die All Blacks in Saterdag se oorwinning van 57-23 oor Fidji in Dunedin. Hy het die eerste All Black-voorspeler geword wat vier drieë in ’n toets druk. Foto: Getty Images

Die All Black-haker Dane Coles het geskiedenis gemaak deur die eerste voorspeler te word wat vier drieë vir Nieu-Seeland in ’n toets te druk.

Coles het dit Saterdag vermag in die Kiwi’s se oorwinning van 57-23 oor Fidji in Dunedin. Drie van die drieë was van rolmaalbewegings in ’n toets waar die All Blacks onverwags hard moes werk om te wen.

Fidji het vir Nieu-Seeland veral by die afbreekpunte gepla en die tuisspan het ’n klomp strafskoppe daar afgestaan.

Ter versagting moet onthou word dat All Blacks se breier, Ian Foster, 13 veranderinge gemaak het aan die span wat Tonga die vorige naweek met 102-0 geklop het.

Fidji het egter weens Covid-19-protokol ook net twee oefensessies saam in die aanloop tot die toets gehad en die span het nietemin goeie rekenskap van homself gegee.

• In Cardiff het Wallis, sonder sy spelers wat saam met die Britse en Ierse Leeus op toer is in Suid-Afrika, gelykop met 20-20 teen Argentinië gespeel.

Jarrod Evans, plaasvervanger-losskakel vir Wallis, het ’n strafskop wat die wedstryd kon beklink het in die laaste minuut verbrou.

Gegewe dat Argentinië van die 29ste minuut af net 14 spelers op die veld gehad het – die heelagter, Juan Cruz Mallia, het ’n rooi kaart gekry vir ’n gevaarlike duikslag – sal die Drake teleurgesteld wees oor dié uitslag.

Die Pumas was by geleentheid in die tweede helfte selfs met 20-6 voor, maar verdoelde drieë deur Will Rowlands en Tomos Williams het die tuisspan van ’n verleentheid gespaar.

Marcus Smith was in die kol met nege doelskoppe vir Engeland in die Rose se sege van 70-14 oor Kanada op Twickenham. Foto: Getty Images

• Adam Radwan en Jamie Blamire het albei ’n driekuns aan drieë vir Engeland aangeteken in ’n weghol-oorwinning van 70-14 oor Kanada op Twickenham.

Dis egter die Rose se losskakel, Marcus Smith, wat dié dag die langste sal onthou nadat hy gedurende die wedstryd verneem het dat hy na die Britse en Ierse Leeus se kamp in Suid-Afrika ontbied is.

Smith is ingelig toe hy in die tweede helfte vervang is.

“Ek het gedink dis ’n afjak (toe hy vervang is), dalk ’n fout of iets wat ek verkeerd gedoen het. Toe word ek meegedeel dat ek môre vlieg,” het hy aan die BBC gesê.

Smith is ontbied omdat daar kommer bestaan oor die Skotse losskakel Finn Russell se fiksheid. Russell het las van ’n haksening-besering.

• ’n Eksperimentele span van Ierland, met Ronan Kelleher aan die voorpunt, het die VSA met 71-10 in Dublin afgeransel.

Kelleher (23), ’n uiters belowende haker, het vier van die Iere se tien drieë gedruk. ’n Hoogvat op hom het ook vir Riekert Hattingh, die Suid-Afrikaans gebore flank van die VSA, reeds 26 minute voor die eindfluitjie in die stort laat beland. Stuart McCloskey, Hugo Keenan, Gavin Coombes en Finlay Bealham het almal daarna vir Ierland gaan druk.

• Samoa het Saterdag in Auckland vir Tonga in ’n kwalifiserende wedstryd vir 2023 se Wêreldbeker-toernooi met 42-13 ore aangesit.

Meer oor:  Marcus Smith  |  Dane Coles  |  Argentinie  |  Wallis  |  Nieu-Seeland  |  Engeland  |  Toetsrugby  |  Rooi Drake  |  Haker  |  Toetse  |  Poemas  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.