Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cooney-stewel kan moles maak vir Kings

As daar nou een speler is vir wie die Southern Kings Sondag in hul Pro14-wedstryd in Port Elizabeth teen Ulster moet ligloop, is dit die skrumskakel John Cooney.

Ulster het sy eerste twee wedstryde albei in die doodsnikke danksy Cooney se betroubare skopskoen gewen.

Die Ulster-manne was twee weke gelede met 15-13 baas teen die Scarlets en het die afgelope naweek met 30-29 oor Edinburgh geseëvier.

Die akkurate skopskoen van John Cooney voorspel gevaar vir die Southern Kings. Foto: Getty Images

Dis dan ook geen verrassing dat Ulster besluit het om Cooney onlangs vir nog drie jaar te kontrakteer nie.

Die 28-jarige skrumskakel het sover in twee toetse vir Ierland gespeel. Daar moet egter in gedagte gehou word dat hy met die puik Conor Murray vir ’n plek in die nasionale span meeding.

In die Pro14-reeks het Cooney hom al vir ’n paar jaar as ’n staatmaker bewys.

Voordat hy verlede jaar by Ulster aangesluit het, was hy eers vir Leinster en toe vir Connacht ’n sleutelspeler.

In ’n onderhoud met The Belfast Telegraph sê Cooney dat hy baie na Ulster se toer na Suid-Afrika uitsien.

Ulster speel hierdie week teen die Kings en volgende week teen die Cheetahs.

“Van die ouens, soos Chris Henry en Andrew Trimble, wat verlede jaar saam Ulster in Suid-Afrika was, sê dit was hul lekkerste tyd tot dusver saam met die klub,” sê Cooney.

“Ek sien daarom baie uit na die toer. Dit sal ons ook die kans gee om as ’n span nader aan mekaar te kom.”

Cooney sê daar speel deesdae soveel Suid-Afrikaners vir klubs in Europa rugby dat dit vir hom net logies was dat SA spanne deel van die Pro14-reeks moes word.

Hy waarsku ook dat die Kings en die Cheetahs algaande groter faktore in die reeks kan word.

Poerie van Rooyen kan dalk Sondag die man wees wat John Cooney moet oppas in die Baai. Foto: Getty Images

“Dit was dieselfde toe die Italiaanse spanne by die reeks aangesluit het. Hulle het aanvanklik gesukkel, maar kyk net byvoorbeeld hoe mededingend is Benetton deesdae,” sê hy.

“Altwee spanne (die Kings en die Cheetahs) sal verbeter. Die Cheetahs het baie spelers verloor en moet nou eers weer span bou en die Kings het ’n goeie borgskap gekry, wat hulle sal versterk.”

Cooney se regstreekse teenstander teen die Kings sal een van Poerie van Rooyen of Godlen Masimla wees.

Van Rooyen het die eerste twee wedstryde vir die Kings begin, maar dis nie ’n uitgemaakte saak dat hy dit teen Ulster sal doen nie.

Deon Davids, die Kings se hoofafrigter, sal sy span glo eers Saterdagoggend saamstel.

Hy wil sekere spelers, soos die heelagter Michael Botha, soveel tyd moontlik gee om van hul beserings te herstel voordat hy span kies.

Meer oor:  Michael Botha  |  Ulster  |  Deon Davids  |  Pro14  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.