Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Corné put sy inspirasie uit dok Craven

“Soos Danie Craven gesê het . . .”

Dis nie woorde wat ’n mens dikwels, indien ooit voordat dit Maandag in Bellville geuiter is, uit die mond van ’n moderne rugbyspeler hoor nie, maar die Westelike Provinsie-loskopstut Corné Fourie is sedert sy kinderjare in Dok se wyshede geskool.

“My oupa het my baie vertel en my oom (Frank Smit) het onder Buurman van Zyl gespeel. Dit was in sy jong dae, toe hy nog knieë gehad het,” het Fourie Maandag aan ’n handvol joernaliste gesê wat aan sy lippe gehang het.

Corné Fourie glo in die rugbywyshede wat wyle dok Danie Craven verkondig het. Foto: Gallo Images

Dan dié wysheid uit sy dae by die Leeus: “Coach Swys (de Bruin) het altyd gesê die vaste vyf skuif die klavier en die agterlyn speel die klavier. As ek voorlangs fisiek kan wees en mense kan ‘skuif’, sal dit die agterlyn se taak vergemaklik. So jy moet maar net fisiek wees en die oorwinning sal vanself kom!”

Fourie het inderdaad al die raad wat hy gekry het in die afgelope naweek se oorwinning van 20-5 in die WP se Curriebeker-wedstryd teen die Blou Bulle op Nuweland toegepas. Die WP het met hom aan die voorpunt talle strafskoppe by die skrums afgedwing om druk op hulself te verlig en dit ook op die Bulle te plaas.

“Ek is baie dankbaar oor hoe dinge die naweek afgeloop het, maar ons het as ’n eenheid geskrum en ek word as ’n individu uitgesonder. Die ganse pak voorspelers verdien krediet,” sê Fourie.

Die tweestryde in die voorry is egter dikwels bepalend en die verwagte een in Saterdag se wedstryd teen die Haaie – tussen Fourie en die Haaie se gesoute Springbok-vaskopstut, Coenie Oosthuizen – gryp die verbeelding aan.

“Coenie was al ’n paar keer om die blok. Hy’s ervare en ’n goeie vaskopstut. Dit gaan voorlangs ’n goeie stryd wees en ek sien daarna uit,” sê Fourie.

Coach Swys (de Bruin) het altyd gesê die vaste vyf skuif die klavier en die agterlyn speel die klavier. As ek voorlangs fisiek kan wees en mense kan ‘skuif’, sal dit die agterlyn se taak vergemaklik.

Geoordeel aan hul nederlaag teen die Griekwas die afgelope naweek, behoort die WP die gunsteling te wees om in Durban te wen. Dis egter moeilik om jou dit in te dink dat die Haaie twee naweke agtereenvolgend só ver benede hul potensiaal sal speel.

“Die Haaie is die verdedigende kampioen en het die kwarteindronde van die Superreeks gehaal. Die potensiaal is steeds daar. Hulle gaan ons voorlangs aanval en het goeie buiteagterspelers. Dis ’n goeie span,” sê Fourie.

Hy glo dis belangrik om met ’n goeie Curriebeker-veldtog momentum vir volgende jaar se Superreeks te skep.

“Jy bou spanne deur die momentum wat van die Curriebeker- na die Superreeks oorgedra word,” sê hy.

“Mense onderskat Curriebeker-rugby. Dis ’n taai kompetisie. In Pretoria, waar ek vandaan kom, sê mense klubrugby is nie hard nie, maar gaan speel ’n bietjie in die Carltonliga en jy sal tot ’n ander insig kom. Dís waar jy rugbylesse leer. Dieselfde geld die Curriebeker-reeks. Dis taai . . . en lieflik.”

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Westelike Provinsie  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.