Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Covid-19 beroof Japan van WB-momentum

Japan se nasionale rugbyspan sal glad nie in 2020 uitdraf nie weens kommer oor spelers se veiligheid vanweë die Covid-19-pandemie.

Só het die Japanse Rugbyunie (JRFU) Maandag in ’n verklaring gesê.

Jamie Joseph, afrigter van Japan se nasionale rugbyspan. Foto: Getty Images

Dié aankondiging was te wagte nadat die JRFU sy nasionale span aan ’n agtnasies-kompetisie in Europa, wat tradisionele jaareindwedstryde vanjaar vervang, onttrek het.

Jamie Joseph, die span se hoofafrigter, moes reeds magteloos toekyk hoe toetse teen Engeland en Wallis, wat vroeër vanjaar sou plaasvind, weens die pandemie gekanselleer word.

Japan se laaste toets was sy nederlaag teen Suid-Afrika in die kwarteindronde van 2019 se Wêreldbeker-toernooi op eie bodem.

“Ons het besluit dat daar geen toetswedstryde vanjaar sal wees nie,” het Kensuke Iwabuchi, voorsitter van die JRFU, aan die media gesê.

“As die bestuur dink ons proaktief oor hoe om die momentum van ons veldtog by die Wêreldbeker-toernooi te gebruik om vorentoe te beweeg.”

Joseph het die belangrikheid daarvan onderstreep om toetswedstryde teen van die wêreld se sogenaamde vlak 1-spanne te hê.

“Dit sou wonderlik wees om aan die agtnasies-reeks deel te neem,” het Joseph, wie se kontrak verleng is ná verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi, gesê.

“Dit sou ons spelers daardie nodige ervaring gegee het om hul spel te ontwikkel en hul weer teen van die wêreld se voorste spanne op te weeg.”

Japan se plaaslike kompetisie, die Topliga, is vroeër die jaar gekanselleer weens die pandemie, wat beteken dat die meeste van Japan se toetsspelers die afgelope jaar nog bitter min rugby gespeel het.

"Ons het besluit dat daar geen toetswedstryde vanjaar sal wees nie,"
Kensuke Iwabuchi

“Die regte besluit is geneem. Ons het nog baie tyd om onsself vir die volgende Wêreldbeker voor te berei,” het Joseph gesê.

“Ek hoop die situasie verbeter in Japan en dan kan ons na die volgende seisoen begin uitsien.”

Die verbod op mense met buitelandse paspoorte om Japan binne te gaan, het meegebring dat talle lede van Japan se afrigtingspan, wat Joseph en Tony Brown (hulpafrigter) insluit, nog nie na Japan kon terugkeer en oefenkampe daar hou nie.

Rapport het boonop Sondag berig dat Johan Ackermann steeds in Suid-Afrika vasgekeer is en geen idee het wanneer hy hom by sy nuwe rugbyspan in Japan, die NTT Docomo Red Hurricanes, sal kan aansluit nie.

Sy kontrak het reeds op 1 Julie in werking getree.

Twee van sy hulpafrigters, Rory Duncan en Neil de Bruin, is ook nog in SA gestrand.

Drie spelers, Makazole Mapimpi, Tyler Paul en Ruan Vermaak, is ook veronderstel om by hul spanne in Japan in te val, maar het nog geen nuus gekry oor wanneer hulle Japan toe sal kan vlieg nie. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Jamie Joseph  |  Skotland  |  Sesnasies-Reeks  |  Fidji  |  Italië  |  Japanse Rugbyunie  |  Ierland  |  Japan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.