Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs se slim duiksak-plan
Die Cheetah-senter Howard Mnisi maak gebruik van die aangepaste duiksakke in ’n oefening in die Toyota-stadion in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Die ontsmetting van toerusting tydens oefeninge was voorheen nooit deel van enige rugbyspan se daaglikse roetine nie, maar spanne soos die Cheetahs is nou al goed gekonfyt met dié Covid-19-maatreël wat gevolg moet word.

Dié Vrystaatse franchise, saam met sewe ander beroepspanne, oefen sedert verlede week in groepies van vyf en moes vinnig aan die “nuwe normaal” gewoond raak.

“Die balle word gereeld ontsmet en ook die toerusting wat die verskillende groepe om die beurt gebruik. As die een groep wissel met ’n ander maak ons eers alles skoon. Dieselfde geld in die gimnasium waar elke apparaat eers skoongemaak word vir die volgende groep en so herhaal die proses hom,” sê Hawies Fourie, die Cheetahs se hoofafrigter.

Ashwell Rafferty, spanbestuurder van die Cheetahs, ontsmet balle in ’n oefening. Foto: Gallo Images

Hy sê hulle het die laaste tyd hard geoefen en hy het gevoel dit was goed om die spelers ná Dinsdag se oefening ’n blaaskans te gee voordat hulle Maandag weer saamtrek.

“Ons hoop ons kan binnekort in spanverband begin oefen. Ons het nog nie uitsluitsel gekry oor wanneer die Curriebeker-reeks begin nie. Daar’s ’n paar datums wat in die lug hang en dis maar frustrerend,” sê Fourie.

“Ons hoop om binnekort te hoor wanneer ons kan begin en daar is belowe dat ons vier weke binne spanverband sal kan oefen voordat die Curriebeker afskop. So indien hulle (SA Rugby) wil hê dit moet op 29 Augustus begin, sal ons nou toegelaat moet word om in spanverband te begin oefen.”

Hy sê hulle het egter nog geen aanduiding gekry dat dit so gaan wees nie en vermoed dat die Curriebeker dus eers in September begin,

“Maar ons hoop om binnekort meer duidelikheid hieroor te kry.”

Hy sê hy en sy afrigtingspan is in die stadium baie tevrede met die spelers se fiksheidsvlakke, hoewel daar nog heelwat aandag aan hul vaardighede gegee moet word.

“Daar lê ook nog baie werk in die gimnasium voor. Daar’s manne wat nog spiermassa moet bou, maar ek is positief dat ons oor ’n maand gereed sal wees om te kan speel indien dit wel so gaan werk.”

Hawies Fourie het self hand bygesit met die ontsmetting van die duiksakke. Foto: Gallo Images

Intussen is daar ook ’n aanpassing gemaak met die duiksakke wat in oefeninge gebruik word. Die sakke pas in ringe en bly staande, anders as die gewone sakke, wat heeltyd omval en met dié dat daar nie kontakoefeninge gedoen word nie, help dit die spelers baie, glo Fourie.

“In plaas daarvan om die heeltyd sakke op te tel help die ringe dat dit regop bly en dien hulle as ‘teenstanders’, wat die spelers help om hul hardlooplyne en so meer te oefen.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Covid-19  |  Hawies Fourie  |  Rugby  |  Howard Mnisi  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.