Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Covid-19 dalk inspuiting vir CB, sê Wynand

Die onverwagse opskorting van die Superreeks en Pro14-kompetisie bied dalk ’n gulde kans om die Curriebeker-reeks vanjaar op ’n krag-teen-krag-formaat te beslis, sê die voormalige Springbok-kaptein Wynand Claassen.

Wynand Claassen in die 1980’s op die aanval vir Natal teen Transvaal in die Curriebeker-kompetisie. Foto: Gallo Images

“Sal dit nie wonderlik wees om weer ’n Curriebeker-kompetisie soos in die ou dae te sien nie? Toe al die Springbokke in aksie was oor ’n dubbelronde,” sê hy.

“Ek dink ons sal verras wees oor hoe gewild dit kan wees onder rugbyliefhebbers.”

Dit lyk na ’n al groter moontlikheid dat Superrugby – in sy 25ste bestaansjaar – afgelas kan word weens die Covid-19-virus.

So ook het die Pro14-besluitnemers Vrydag aangekondig dat die eindstryd van die kompetisie, wat op 20 Junie in Cardiff gespeel sou word, gekanselleer word. Daar sal in die afsienbare toekoms gekyk word na opsies om die kompetisie dalk later vanjaar op ’n sinvolle manier af te sluit.

Superrugby is afgeleef en daar is geen manier hoe dit weer mense se belangstelling sal aanwakker nie.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het vandeesweek gesê hy kyk na verskeie moontlikhede om plaaslike rugbykompetisies te herstruktureer. Saru doen voetwerk om die rugbyjaar te hervat wanneer die regering aankondig dit is veilig om die land se Covid-19-maatreëls te laat vaar.

Dit behels, volgens ’n Saru-mediaverklaring, dat die “Suid-Afrikaanse franchises en ander provinsiale spanne kan terugkeer na ’n derby-kompetisie”.

Claassen, wat vir die destydse Noord-Transvaal en Natal Curriebeker-rugby gespeel het, sê hy hoop dit beteken dat dié kompetisie weer voorop gestel sal word.

“Dit is die oudste provinsiale rugbykompetisie in wêreldrugby en daar is soveel tradisie betrokke,” sê hy.

“Superrugby is afgeleef en daar is geen manier hoe dit weer mense se belangstelling sal aanwakker nie. Dit het heeltemal sy glans verloor en ons rugby het ’n nuwe inspuiting baie nodig.”

Die virus, dink Claassen, kan die veranderinge versnel wat vir die internasionale rugbylandskap beplan word.

“Daar is eenvoudig te veel rugby wat in ’n jaar ingeprop word,” glo hy.

“Ek is ook ’n voorstander daarvan dat die Springbokke en die All Blacks nie elke jaar teen mekaar moet speel nie. Dit is veronderstel om ’n unieke gebeurtenis te wees, soos die Britse en Ierse Leeus wat elke vier jaar gaan toer. Vroeër jare het jy besoekende spanne se toere so goed onthou, maar ná 1996 het ’n ou begin tred verloor.”

Hy sê dit verras hom nie dat plaaslike spelers dit in ’n meningspeiling van die spelersorganisasie MyPlayers duidelik gemaak het hulle wil in ’n sterk Curriebeker-reeks speel nie.

Daar is eenvoudig te veel rugby wat in ’n jaar ingeprop word.

“Jy wil eendag kan sê jy het uit die Curriebeker gedrink.

Dit is wat saak maak en kom ons hoop ons sien binnekort weer krag teen krag,” sê Claassen.

“Ek dink 2020 kan ’n stap in die regte rigting wees.”

Meer oor:  Wynand Claassen  |  Koronavirus  |  Covid-19  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.