Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Covid-19 eis ervare raadslid van Saru

Huldeblyke stroom in vir Monde Temba Tabata, ’n lid van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad (Saru) se uitvoerende komitee, wat ná ’n maande lange stryd teen Covid-19 Donderdag oorlede is.

Tabata (60) was ’n geliefde en ’n welbekende sakeman, wat oorspronklik van die Oos-Kaap is en later in Johannesburg diep spore getrap het.

Hy is in 2010 as ’n onafhanklike lid op Saru se uitvoerende komitee gekoöpteer en was tot en met sy dood die voorsitter van verskeie ander komitees.

Hy was ook ’n administrateur van Grens en die Oostelike Provinsie se rugbyunies toe hulle onder finansiële druk was.

Saru se uitvoerende raadslid Monde Tabata is oorlede. Foto: Gallo Images

“Hoewel Monde ’n geruime tyd siek was, is sy heengaan ’n geweldige slag,” het Mark Alexander, die president van Saru, gesê.

“Dis amper onmoontlik om te dink dat hy nie meer op die raadsvergaderings sal sit en ’n bydrae sal lewer op verskillende vlakke nie, waar hy sy sakevernuf en lewenservarings gedeel het.

“Hy het sterk oortuigings gehad en was nie bang om dit te deel nie, maar dit was nooit persoonlik vir Monde nie. Hy sal met deernis vir sy joviale geaardheid, en die vriendelike manier waarop hy ons sake hanteer het, asook sy passie vir rugby, veral in die Oos-Kaap, onthou word.

Tabata is in 1960 in Cradock gebore en het sy tersiêre opleiding aan Rhodes-Universiteit voltooi. Hy was ’n stigterslid van die Black Student Movement en die president van hul rugbyunie.

Hy het ook vir Eskom gewerk en was ook uitvoerende hoof van die Nasionale Ekonomiese Inisiatief en Kleinsakeraad.

Hy was later ook die adjunk-uitvoerende hoof van Megapro Bemarking.

“Dis maklik om nou te sê iemand gaan gemis word, maar in Monde se geval is dit nie sommer net leë woorde nie,” het Alexander gesê.

“Ons is baie armer as ’n rugby-organisasie ná sy afsterwe. Hy was ’n rugbyman, wat passievol was oor ’n inklusiewe en suksesvolle toekoms vir rugby in ons land en iemand wat ’n sterk sake-benadering gehad het in alles wat hy aangepak het.

“Dit gaan moeilik wees om sy skoene te vul. Hy gaan gemis word.” – Sportredaksie


Meer oor:  Koronavirus  |  Toetsrugby  |  Covid-19  |  Curriebeker  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.