Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
C-19 gee Leeus opstopper voor Cheetah-stryd

Skaars drie weke nadat rugby in Suid-Afrika die eerste keer in ses maande hervat het, is dié sport weer deur Covid-19 ontwrig, met dié virus wat tent opgeslaan het by Ellispark en sy kloue omtrent ingeslaan het in die Leeus.

Die Springbok-flank Jaco Kriel is een van die Leeus se sterre wat nie in hul span ingesluit is vir Saterdag se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Cheetahs nie. Nege van die Leeus se spelers is direk of indirek deur Covid-19 geraak en aan die kragmeting onttrek. Die Leeus wou nie die spelers indentifiseer nie. Foto: Gallo Images

Nie minder nie as nege spelers in die Leeus se groep is direk of indirek deur Covid-19 geraak en in selfkwarantyn geplaas. Hulle is derhalwe nie vir Saterdag se wedstryd in die Superrugby Unlocked-reeks teen die Cheetahs op Ellispark oorweeg nie.

Ondanks dié ontwrigting in die Leeus se kamp, het dié unie bevestig dat daar geen sprake is dat die wedstryd in die slag sal bly nie.

Die Leeus het Woensdag reeds aangekondig dat vier van hul spelers positief vir Covid-19 getoets is.

Hulle is dadelik, toe die toetsresultate Dinsdag bekend geword het, in selfkwarantyn geplaas. Twee van daardie spelers, wat nie geïdentifiseer is nie, het duidelike simptome van die koronavirus getoon.

Daar is ook spelers wat in nabye kontak was met dié wat positief getoets is en hulle is ook in isolasie geplaas en sal vir minstens tien dae buite aksie wees.

Verlede week is die Leeus se se Springbok-losvoorspeler Willem Alberts ook in selfkwarantyn geplaas nadat hy in aanraking was met iemand wat positief getoets is.

Hy is onttrek aan die wedstryd teen die Stormers in Kaapstad, maar dit blyk asof van die ander Leeus-spelers toe reeds op ’n manier geraak is en deur die net geglip het.

Die Stormers moes Steven Kitshoff (loskopstut) en Scarra Ntubeni (haker) ook noodgedwonge aan hul span vir Vrydag se wedstryd teen die Pumas onttrek en dié twee Bokke is ingevolge Covid-19-protokolle in selfkwarantyn geplaas nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) hulle Dinsdag in kennis gestel het dat ’n Leeus-speler, wat teen hulle op Nuweland in aksie was, positief getoets is.

Hierdie (Kitshoff-hulle se blootstelling aan ’n speler met die virus) het duidelik in die wedstryd gebeur, want ons het nie saam met die Leeus geoefen nie.
John Dobson

Sodra ’n speler positief toets, moet die mediese beamptes beeldmateriaal van die voorafgaande wedstryd en oefeninge fynkam om te bepaal of die betrokke speler met enige teenstanders in nabye kontak was, skryf Stephen Nell.

“Hierdie (Kitshoff-hulle se blootstelling aan ’n speler met die virus) het duidelik in die wedstryd gebeur, want ons het nie saam met die Leeus geoefen nie. Dit was iemand (die betrokke Leeus-speler) met beperkte betrokkenheid in terme van tyd op die veld. Ons spelers is as Kitsie en Scarra geïdentifiseer. Albei is negatief getoets,” het John Dobson, afrigter van die Stormers, Woensdag tydens die aankondiging van sy span gesê.

“Hulle is ’n teleurgesteld dat hulle nie (in Mbombela) kan speel nie, al is hul toetsresultate negatief, maar ter wille van die integriteit van die kompetisie en uit respek vir die situasie, aanvaar ons dit,” sê Dobson.

Kitshoff se direkte teenstanders in die skrums verlede naweek was Carlu Sadie en later in die wedstryd Wiehahn Herbst.

Sadie is wel ingesluit in die Leeus-span vir Saterdag se wedstryd teen die Cheetahs, maar Herbst se plek op die plaasvervangersbank is deur Jannie du Plessis geneem.

Spelers soos Elton Jantjies, Burger Odendaal en Jaco Kriel is ook nie in die span wat Donderdag aangekondig is nie.

Die Leeus het wel gesê Jantjies het Dinsdag ’n ligte kuitbesering opgedoen, maar wat die res betref, moet aangeneem word dat hulle weens die streng Covid-19-protokolle aan Saterdag se wedstryd onttrek is.

Oor die ontwrigting wat Covid-19 by die Leeus veroorsaak het, sê Rob Collins, die spandokter, dat die regte protokolle gevolg is en alles volgens die reëls gedoen word. By die stadion word al die vereiste regulasies ook gevolg om ’n veilige omgewing te verseker.

Ons sal die proses vertrou, ek glo daar is maatreëls (vir almal se veiligheid) getref.
Hawies Fourie

Wat die Cheetahs betref, is dié span tevrede dat hul spelers nie Saterdag moontlik aan enige gesondheidsrisiko blootgestel sal word nie, skryf Owen Kock.

“Ons sal die proses vertrou, ek glo daar is maatreëls (vir almal se veiligheid) getref. Ek dink die rede hoekom daar so baie spelers nie speel is nie is juis om seker te maak dat iemand wat in kontak was met die spelers wat positief is, nie op die veld is nie.

“Ons het volle vertroue in die proses en ons spandokter (Nicolas Theron) was in kontak met die Leeus se spandokter en ook met Saru, so ek glo al die protokolle is nagekom en ek glo dat ons niks het om oor bekommerd te wees nie,” het Hawies Fourie, afrigter van die Cheetahs, Donderdag met die aankondiging van sy span gesê.

Meer oor:  Koronavirus  |  Superrugby Unlocked  |  Leeus  |  Covid-19  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.