Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Covid het ons in Varsitybeker gepootjie’

Ná die afgedankte loesing wat die Ixias aan die hand van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in die Varsitybeker-reeks gekry het, wys die Bloemfonteiners se afrigter daarop dat Covid-19 hul voorbereiding in die wiele gery het.

UWK het Donderdag in Pretoria agt drieë ingeryg om die Ixias met 60-19 af te ransel.

Christiaan Nel, vleuel van die Ixias, word Donderdag in Pretoria met geweld grond toe gebring. Foto: Gallo Images

Drie weke gelede was die Bloemfonteiners se naam op almal se lippe nadat hulle die Maties geklop het. Maar teen UWK was hulle futloos en verroes.

Pieter Bergh, afrigter van die Ixias, sê ná daardie sege het dinge vinnig verkeerd begin loop. Die dag daarna het ’n speler hom gebel met die nuus dat hy sy smaak verloor het.

Die Dinsdag het die ringkoppe van die Varsitybeker gereël dat al die spelers van al die spanne getoets word – met 13 spelers van die Ixias wat die virus opgedoen het. Dit het tien dae in isolasie beteken – ook vir die spelers wat negatief getoets is, maar in kontak met die 13 spelers was.

Die gevolg was dat die Bloemfonteiners net twee oefensessies sedert die oorwinning oor die Maties op 30 April voor Donderdag se kragmeting gehad het.

“Hoe langer die wedstryd (teen UWK) aangegaan het, hoe meer het ons gesukkel om by die intensiteit van die wedstryd by te hou,” sê Bergh.

“Ek weet dit klink soos ’n cliché en dit is nie dat ek verskonings maak nie, maar ’n mens speel soos wat jy oefen. Ons was nie goed genoeg voorbereid nie. Ek dink ons het in die afgelope week seker net 20% van die voorbereiding gehad van wat ons wou.”

Ek weet dit klink soos ’n cliché en dit is nie dat ek verskonings maak nie, maar ’n mens speel soos wat jy oefen.
Pieter Bergh

Een van die Bloemfonteiners se sterk punte tot dusver vanjaar is hul verdediging, maar teen UWK is 48 duikslae verbrou.

Om sake vir die Ixias te vererger, kon Bergh nie saam met die span na Pretoria reis nie omdat die virus hom ook platgetrek het.

Ook Hugo van As, afrigter van Wits, sê dat die koronavirusgevalle in hul kamp hul voorbereiding vir die derde bioborrel belemmer het. Dit het volgens hom ook ’n invloed op hul spankeuses gehad.

Die Johannesburgers bevind hulle in die tweede laaste plek op die punteleer.

’n Uitbundige Pieter Bergh, afrigter van die Ixias, toe sy span die Maties op 30 April in Pretoria geskok het. Foto: Gallo Images

Waar dit voor Donderdag se nederlaag algemeen aanvaar is dat die Ixias verseker is van ’n plek in die halfeindstryd van die Varsitybeker, veg die span nou om oorlewing. Die Ikeys, Tuks en Maties is reeds verseker van ’n plek in die uitspeelrondes. Die Ixias en die Noordwes-Universiteit (NWU) en selfs UWK is nog in die wedloop vir ’n plek in die uitspeelrondes.

Bergh weet sy span moet Sondag met Tuks en Dinsdag met die Potchefstromers afreken om dit te vermag.

“Dit klink snaaks, maar ek dink ons gaan baie beter teen Tuks wees juis omdat ons nou as’t ware ’n goeie ‘sessie’ teen UWK agter die blad het. Die realiteit is dat dit in ons eie hande is wat vorentoe gebeur,” sê Bergh.

“Ons mikpunt is om ons intensiteit teen Tuks te verhoog. Dit sal ’n bonus wees om die halfeindstryd te haal, maar dit is reeds ons suksesvolste seisoen ooit.”

Met spanne wat dit nie op die punteleer hoef uit te spook om ’n tuishalfeindstryd te probeer verseker nie, kan die Ikeys, Tuks en Maties besluit om hul groot kanonne in watte toe te draai vir hul wedstryde Sondag, dié spanne se laaste voor die uitspeelrondes.

Die halfeindrondes word Vrydag 28 Mei beslis en die eindstryd op 30 Mei.

Sondag se bepalings:

Tuks se B-veld: 14:00: Ikeys t. Madibaz, 16:00: Wits t. UWK (regstreeks op now.dstv.com, kanaal 245).

Loftus Versfeld: 15:00: NWU t. Universiteit van Johannesburg, 17:00: Shimlas t. Maties, 19:00: Tuks t. Ixias (regstreeks op SS Rugby, Variety 2 en GDN).

Meer oor:  Uwk  |  Varsitybeker  |  Ixias  |  Pretoria  |  Nwu  |  Pieter Bergh  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.