Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Covid-19 kan ’n paar verlore seuns teruglok

Dit is soos om in ’n kristalbal te kyk, maar sommige rolspelers in Suid-Afrikaanse rugby meen nietemin Covid-19 kan straks ’n paar verlore seuns van oorsee laat terugkeer.

Die Bok-stut Vincent Koch sal in 2021 vir die Bulle in die Superreeks in die voorry sak. Foto: Getty Images

Verskeie ryk Europese klubs het die afgelope ruk aangekondig alle werknemers – spelers ingesluit – se salarisse word weens dié pandemie gesny.

Die Leicester Tigers het oor die naweek die hoeveelste Engelse Premierliga-klub geword wat vergoeding as ’n noodmaatreël met 25% snoei.

Gloucester, Saracens, Wasps en Worcester het ook almal 25%-verlagings ingestel.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, sê in sulke tye van onsekerheid wil mense tuis by hulle geliefdes wees.

“Daar is wel baie faktore wat ’n rol speel, soos die rand wat in die proses kwaai houe verduur.

As jy in Europa R8 miljoen verdien en jou salaris word nou (weens Covid-19) met 25% gesny, kan jy net sowel hier vir R5 miljoen speel.
Willem Strauss

“Die Europese klubs wat hulle spelers se salarisse begin sny, sal sekerlik ’n rimpeleffek hê.

“Ons sal egter spelers vorentoe iets anders moet bied. By die Bulle fokus ons al meer op ’n loopbaan ná rugby.

“Schalk Brits is ’n goeie voorbeeld. Hy het verlede jaar vir die Bulle gespeel en werk nou vir Remgro (’n aandeelhouer van die Bulle).”

Die agent Gert van der Merwe, wat verskeie topspelers plaaslik en oorsee verteenwoordig, meen Suid-Afrikaanse rugby is met sy nuwe kontrakteringstelsel en verlede jaar se Wêreldbeker-glorie in ’n goeie posisie om midde-in die korona-warboel spelers terug te lok.

“Trouens, meer as een speler het reeds aangedui hulle wil terugkeer.

“As jy in Europa R8 miljoen verdien en jou salaris word nou (weens Covid-19) met 25% gesny, kan jy net sowel hier vir R5 miljoen speel.

“Ja, dit is nie lang termyn nie en ons weet nog nie wat die volle uitwerking (van die virus) in Suid-Afrikaanse rugby gaan wees nie, maar ek glo dit maak tog tot ’n mate die deur oop vir ons spelers wat wil terugkom.”

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie. Foto: Gallo Images

So byvoorbeeld sal die Springbok-stut Vincent Koch, wat op Van der Merwe se boeke is, in 2021 danksy ’n leenooreenkoms (met sy Engeland-klub, Saracens) vir die Bulle Superrugby speel.

“Daar is ’n positiewe gevoel en uitkyk nadat ons verlede jaar die Wêreldbeker gewen het en Rassie (Erasmus) se kontrakteringstelsel speel ’n bykomende rol.”

Van der Merwe waarsku dat Covid-19 die internasionale rugbylandskap onherroeplik gaan verander.

“Daar is swaarkry op pad en dit kan die spel verarm. Ons gaan dit dalk eers later voel, maar daar sal sonder twyfel ’n beduidende invloed wees.”

Piet Heymans, uitvoerende hoof van die vakbond Sport Employees Unite en ’n nie-uitvoerende direkteur van die spelersorganisasie MyPlayers, sê hy twyfel of spelers wat oorsee speel, só vinnig loopbaanbesluite sal neem.

“Hoewel dit die spel geweldig negatief beïnvloed, is die aanduiding dat die ontwrigting nie langer as drie tot vier maande behoort te wees nie.

“In Ierland byvoorbeeld is dit nie so moeilik om salarisse deur die bank te besnoei nie, want daar is nie so baie rolspelers soos in ons rugby nie en daar is baie vertroue in hulle stelsel.

“Kom ons hoop en vertrou soortgelyke ingryping sal nie by ons nodig wees nie.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Willem Strauss  |  Bulle  |  Superrugby  |  Covid-19  |  Engelse Premierliga  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.