Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
C-19-laksheid: Baabaas-stryd afgelas

Engeland en die Barbarians se wedstryd, wat vir Sondag op Twickenham geskeduleer was, is afgelas nadat die Engelse Rugbyunie (RFU) ontdek het dat nóg Baabaas-spelers vandeesweek die ooreengekome Covid-19-protokol oortree het deur hul hotel sonder toestemming te verlaat.

Spelers van Engeland tydens ’n oefensessie verlede Saterdag op Twickenham. Foto: Getty Images

Die RFU se aanvanklike ondersoek was vir ’n oortreding wat Woensdag plaasgevind het toe 12 spelers die reëls oortree het. Volgens die BBC was Chris Robshaw, Richard Wigglesworth, Sean Maitland en Jackson Wray onder hulle.

Met hul terugkeer is die spelers dadelik afgesonder van die res van hul spanmaats.

Dié spelers is dadelik aan die Barbarians se groep onttrek en die Baabaas is aanvanklik tot Vrydagmiddag gegee om plaasvervangers vir hulle te vind, wat almal ook onlangs negatief vir die koronavirus getoets is.

Maar ’n verdere ondersoek deur die RFU het getoon dat ’n groep spelers Dinsdagaand ook sonder toestemming die hotel verlaat het en met hul terugkeer nie in afsondering geplaas is nie.

Die RFU sê die integriteit van die bioborrel is daardeur gekompromitteer.

“Die spelers wat die veilige omgewing verlaat het, het die risiko van moontlike verspreiding van die koronavirus aan al hul spanmaats en bestuurslede in die borrel, verhoog. Selfs met ’n verdere ronde van toetse sal dit nie moontlik wees om te waarborg dat hierdie spelers nie die virus onder lede het nie,” sê die RFU in ’n verklaring.

“Ons is geweldig teleurgesteld dat hierdie wedstryd gekanselleer moes word. Ons weet hoe graag ondersteuners die spanne wou sien speel,” sê Bill Sweeney, die RFU se uitvoerende hoof, in ’n nuusverklaring.

“Ons prioriteit is egter om die gesondheid en veiligheid van die Engelse groep en ander internasionale spanne met wie hulle in aanraking gaan kom, te beskerm.”

Die wedstryd sou deel vorm van die Rose se voorbereiding vir hul laaste wedstryd in die Sesnasies-reeks, wat in Maart weens die koronaviruspandemie uitgestel moes word.

Die Rose kom volgende Saterdag in Rome teen die Azzuri te staan en ’n oortuigende oorwinning sal hulle in ’n stewige posisie plaas om die reeks te wen.

Die RFU se ondersoek duur voort en daar word verneem dat die skuldige partye daarvan aangekla kan word dat hulle die spel in oneer gebring het met hul onverantwoordelike optrede.

Italië is dié Saterdag reeds in ’n Sesnasies-stryd teen Ierland in Dublin in aksie.

Ierland se laaste Sesnasies-verpligting is volgende week teen Frankryk in Parys. – Sportredaksie

Meer oor:  Rose  |  Bioborrel  |  Barbarians  |  Engelse Rugbyunie  |  Engeland  |  Covid-19  |  Covid-19-Protokol  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.