Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Covid-19 ‘oorskadu Saru se prestasie’

Die Covid-19-pandemie oorskadu Suid-Afrikaanse rugby se goeie finansiële bestuur, tog sou dit ’n ramp gewees het as dié pandemie twee of drie seisoene gelede toegeslaan het.

Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, glo Suid-Afrika sal die finansiële storm oorleef wat die Covid-19-pandemie veroorsaak het. Foto: Gallo Images

So lui ’n verklaring van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) nadat hy Woensdag sy finansiële state op sy algemene jaarvergadering ter tafel gelê het.

Saru sê hy moes nogmaals sy sente omdraai om in 2019 “in ’n omgewing van massiewe uitdagings” ’n wins van R8,5 miljoen (ná belasting) te behaal.

Dié beheerliggaam se inkomste van R1,29 miljard is 2,5% hoër as in 2018 (R1,26 miljard), danksy groter inkomste uit uitsaairegte, borgskappe, toelae, uitbetalings vir versekering, tantieme en Wêreldrugby se sewestoernooi in Kaapstad.

Geldelike steun aan die land se 14 unies en spelerwelsyn het saam 32% van Saru se bedryfsuitgawes (R275 miljoen) uitgemaak.

Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, sê daar moes vir groot dele van die jaar op ’n oortrokke fasiliteit gesteun word en oplossings moes gevind word weens die verlies van ’n uitsaaivennoot, Lotto-inkomste wat nie ontvang is nie, lenings wat nie terugbetaal is nie en R62 miljoen wat aan die Springbok-groep betaal is nadat die Wêreldbeker in Japan verower is.

“Die maatreëls wat die afgelope paar jaar in werking gestel is, het ons ’n baie bevredigende finansiële prestasie aan die einde van 2019 besorg.

As dit twee, drie jaar gelede op ons pad gekom het, sou dit ’n heel ander storie gewees het en sou ’n uiters dreigende situasie vererger het.
Jurie Roux

“Ons het ons finansiële posisie verbeter deur alle lenings, beleggings en debiteure, waaroor daar twyfel was of dit ingevorder sou kon word, te verhaal.

“Toe die krisis (Covid-19) ons tref, was ons derhalwe in ’n beter finansiële posisie om maatreëls te tref om die nuwe uitdaging aan te pak.

“As dit twee, drie jaar gelede op ons pad gekom het, sou dit ’n heel ander storie gewees het en sou ’n uiters dreigende situasie vererger het,” sê Roux.

Saru het ’n paar seisoene gelede verliese gely en daar was groot kommer oor die toekoms van die spel.

Verlede jaar het hy daarin geslaag om sy oortrokke banklening van R68 miljoen tot R7 miljoen te verminder, maar het sedertdien aansoek gedoen om dié gerief te verhoog in die lig van die “onvermydelike kontantvloei-kwessies wat deur die pandemie geskep word”.

Roux benadruk die pandemie het Suid-Afrikaanse rugby se goedgekeurde begroting “opgeskeur” en daar moes inderhaas ’n aggressiewe benadering geneem word.

Met Saru se omvattende besparingsplan vir die plaaslike rugbybedryf, wat in Mei in werking getree het, word daar beoog om tot R1,2 miljard te bespaar, sou dit nodig wees.

“Dit is pynlik vir die bedryf, maar dit sal meebring dat ons veilig uit die brandende gebou kan stap,” het Roux gesê.

* Francois Davids het Jerry Segwaba uitgestof en is as Saru se adjunkpresident op die jaarvergadering herverkies.

Saru het ook hulde gebring aan twee veterane wat aan die einde van die pad in Suid-Afrikaanse rugby gekom het – Tobie Titus en Harold Verster.

Titus groet ná ’n loopbaan van ses dekades, terwyl Verster meer as 50 jaar by rugby betrokke was.

Verster (70) sal later vanjaar die tuig neerlê as besturende direkteur van die Vrystaat-Cheetahs Maatskappy.

Meer oor:  Finansiële State  |  Covid-19  |  Inkomste  |  Saru  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.