Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Virus plettervat dalk res van sewes-seisoen
Toeskouers tydens die Kaapstad-sewestoernooi in 2018. Foto: Gallo Images

Dit lyk na ’n al hoe groter moontlikheid dat die laaste vier toernooie van die huidige seisoen van Wêreldrugby se sewesreeks nie gespeel gaan word nie.

Die toernooie in Engeland en Frankryk is vroeër na September en dié in Hongkong en Singapoer na Oktober verskuif, toe die Covid-19-pandemie die sportwêreld tot stilstand geruk het.

Toe Gordon Tietjens, Samoa se afrigter, vandeesweek aangekondig het dat hy nie gaan poog om sy kontrak te verleng wanneer dit in Augustus verval nie, het dit ’n paar vrae oor die res van die seisoen laat ontstaan.

Dit sou tog sin gemaak het dat hy aangebly het vir die res van die seisoen as hy geweet het dat dit nog beslis sal word. Tog het Tietjens volgens Reuters gesê dat die res van die seisoen “in alle waarskynlikheid” geskrap gaan word.

Die tradisieryke toernooi in Hongkong is een van die hoogtepunte op die jaarlikse seweskalender, maar dié land se rugbyunie het volgens berigte 12 van sy 116 voltydse personeellede afgelê.

“Die unie (Hongkong Rugbyunie) maak baie staat op die Hongkong-sewestoernooi vir inkomste, tot soveel as 95% van ons inkomste is daarvan afkomstig,” het Robbie McRobbie, die uitvoerende hoof van dié unie, volgens The Fiji Times gesê.

Mike Friday, afrigter van Amerika se sewesrugbyspan, is bekommerd dat die korter weergawe van die spel ’n knou toegedien kan word met unies wat uitgawes besnoei om hul volhoubaarheid te probeer verseker. Foto: Getty Images

Die pandemie kan ook ’n ernstige terugslag vir die ontwikkeling van sewesrugby inhou. Mike Friday, afrigter van Amerika, het aan The Rugby Paper gesê hy vrees sewes kan aan die kortste ent trek soos wat unies hul rieme begin dunner sny in ’n poging om te oorleef.

Dat dit nie bangmaakpraatjies van Friday is nie, blyk duidelik nadat vyf Australiese sewesspelers van hul kontrakte vrygestel is volgens smh.com.au.

Nadat die Duitse Bundesliga, een van Europa se grootste ligas, die afgelope naweek in leë stadions hervat is, het sportliefhebbers dalk valse hoop gegee. In ’n sport soos sewesrugby gaan dit veral oor die toeskouers – en die atmosfeer wat hulle skep.

Selfs al word reisbeperkings opgehef en sewesrugby kan agter geslote deure plaasvind, is dit net eenvoudig nie ekonomies lewensvatbaar nie. Sonder toeskouers kan toernooie soos Hongkong of die gewilde een in Kaapstad nie winsgewend aangebied word nie.

Sou die res van die seisoen geskrap word, kan Nieu-Seeland ook as kampioen gekroon word, omdat hy eerste op die puntelys is, en die Blitsbokke tweede.

Wêreldrugby het by monde van ’n woordvoerder gesê dat die situasie oor die res van die seisoen “gemonitor” word.

Alle besluite sal tydig geneem word en in ooreenstemming wees met die betrokke regerings se riglyne.

“Ons is in voortdurende gesprekke met die gashere van Wêreldrugby se sewesreeks, die deelnemende nasies en die Internasionale Rugbyspelersvereniging. Alle besluite sal tydig geneem word en in ooreenstemming wees met die betrokke regerings se riglyne.”

* Die 2020-’21-seisoen is veronderstel om met die toernooie in Dubai en Kaapstad te begin. Dié twee toernooie word tradisioneel in die eerste twee naweke van Desember beslis.

Meer oor:  Mike Friday  |  Gordon Tietjens  |  Vsa  |  Blitsbokke  |  Sewesrugby  |  Wereldrugby  |  Wereldreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.