Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SA spanne hoor hulle is uit nuwe reeks

Die vier topspanne van SA rugby het ’n mokerhou in die maag gekry met die nuus dat hul deelname aan die Reënboogbeker-reeks na alle waarskynlikheid van die baan is.

Die Leeus, Bulle, Stormers en Haaie is volgens Rapport se inligting die afgelope Vrydag ingelig dat hulle aan die reeks onttrek gaan word. Dit het gevolg op ’n virtuele vergadering Woensdag, waar die Reënboogbeker se besluitnemers gepraat het oor struikelblokke wat dit bitter moeilik gaan maak vir die Suid-Afrikaanse spanne om in veral Skotland en Ierland te gaan speel.

Rapport verneem reisbeperkings en kwarantynvereistes weens die pandemie is van die belangrikste oorwegings wat die reeks in die gedrang plaas.

SA Rugby het minstens een franchise reeds opdrag gegee om nie voort te gaan met prosesse om hul spelers se visums vir die reis na Europa gereed te kry nie.

SA Rugby sê egter g’n besluit is al oor die plaaslike spanne se deelname geneem nie.

“Die PRO Rugby-raadsvergadering waar besluite geneem word, is eers oor twee weke,” het ’n woordvoerder van SA Rugby aan Rapport gesê.

Die Reënboogbeker is veronderstel om oor twee weke – op 24 April – af te skop met ’n rits plaaslike derbies. Die Skotse, Ierse, Walliese en Italiaanse spanne sou weens die pandemie in geen wedstryde in Suid-Afrika speel nie. Die SA spanne sou sowat ses weke in ’n bioborrel in ’n plek soos Bristol gaan tent opslaan het om hul Reënboogbeker-verpligtinge daar na te kom.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Foto: Gallo Images

Volgens SA Rugby word daar “volstoom” beplan om die vier SA spanne in Brittanje te kry. “Ons wag ook op die finale antwoorde van die onderskeie mediese komitees oor die protokolle.”

Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, het op 26 Maart, toe die Reënboogbeker-bepalings aangekondig is, gewaarsku dat “magte buite ons beheer” die toernooi kan beduiwel.

Indien Suid-Afrika wel aan die Reën­boogbeker onttrek, is die voorlopige beplanning vir die Bulle, Leeus, Stormers en Haaie om as ’n troosprys in ’n plaaslike Franchisebeker-toernooi teen die Cheetahs, Griekwas, Pumas en Oostelike Provinsie te speel. Die verwagting is dat die Premierliga van die Curriebeker in so ’n scenario van ’n dubbel- in ’n enkelronde sal verander.

Toe die Reënboogbeker nog ’n sterk moontlikheid was, was die plan dat die Curriebeker van Junie af oor ’n dubbelronde tot in Oktober gespeel word en dat die Cheetahs, OP, Pumas en Griekwas om ’n Toyotabeker sou meeding.

Indien die Reënboogbeker sneuwel, sal dit ’n kwaai terugslag vir SA Rugby se geldkas wees. Deelname aan die toernooi sou broodnodige geldelike verligting aan al die land se 14 unies bied.

Die enigste wenner van ’n besluit om die Reënboog-reeks te kanselleer, sal die Cheetahs wees. Nadat hulle vroeër op omstrede wyse uit die Pro16-reeks gegooi is, sal blootstelling van deelname aan die Franchisebeker-reeks hul borge, ondersteuners en spelers verbly.

Meer oor:  Onttrek  |  Sa Rugby  |  Franchises  |  Covid-19  |  Reënboogbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.