Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Varsity-rugby steek kers by netbal op

Die afrigter van Tuks se rugbyspan het by die bekende netbalbreier Jenny van Dyk gaan kers opsteek oor hoe om sy span se terugkeer na die oefenveld doeltreffend te bestuur.

Ondersteuners tydens ’n Varsitybeker-wedstryd in Maart 2020 in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) onlangs die jawoord vir spanne gegee het om te midde van streng regulasies om die verspreiding van Covid-19 te probeer verhoed, na die oefenveld terug te keer.

Boonop is daar ’n verdere geelwortel vir spanne met die nuus dat volgende jaar se Varsitybeker-reeks in Maart sal begin – so dit is nie asof spelers sommer net sal oefen sonder iets op die horison nie.

“Dit voel soos ’n vroeë Kersfees in November. Hoewel daar baie regulasies en protokolle is waaraan voldoen moet word, is dit ’n stap in die regte rigting, met die spelers se gemoed wat sommer gelig het,” sê Nico Luus, afrigter van Tuks.

Jenny van Dyk, afrigter van die Noord-Gautengse Jaguars. Foto: Gallo Images

“Ons plan is om op 2 November ’n terugkeer te maak, maar dit gaan baie stadig en stelselmatig wees. Die eerste twee weke gaan ons net reguit lyne hardloop om die spelers in die ding te kry.

“In die eerste week gaan daar nie eens aan ’n bal gevat word nie. Ek het by Jenny van Dyk gaan kers opsteek en sy het vertel dat hulle met die terugkeer ervaar het baie spelers sukkel met spierbeserings. So ons wil dit verhoed en dinge baie stadig hanteer.”

Van Dyk is nie net die afrigter van Tuks en Tshwane se netbalspanne nie, sy rig ook die Noord-Gautengse Jaguars af, wat tans aan die Nasionale Liga in Bloemfontein deelneem.

Maties, wat in 2018 en 2019 die Varsitybeker-titel gewen en in 2020 nog onoorwonne was toe Covid-19 die seisoen kortgeknip het, is reeds sedert Maandag terug op die rugbyveld. Dié span se afrigter, Drikus Hancke, benadruk dat al die moontlike gedoen gaan word om beserings te vermy.

“Ons as afrigters en die spelers het die spanopset baie gemis. Ons is ’n familie by Maties en almal sien uit daarna om mekaar weer te sien. Ons gaan vir eers fokus op herintegrasie en kondisionering om beserings te vermy. “Ook dan op die spelers se individuele vaardighede. Dit verg baie verantwoordelikheid en hulle het hul programme pligsgetrou gevolg, so dit maak my minder bekommerd. Die universiteit en SA Rugby het streng protokolle wat gevolg moet word. Ons sal dit alles noukeurig volg,” sê Hancke.

Maties se senter David Brits probeer ’n verdediger van Ikeys ontglip tydens ’n Varsitybeker-wedstryd tussen dié twee spanne in 2020. Foto: Gallo Images

By die Ixias heers daar soos verwag word groot opgewondenheid om ná maande se afwesigheid weer op die oefenveld te wees.

“Ons sal probeer om op Maandag 26 Oktober te begin oefen, maar ons sal beslis nie op die veld gaan as alles nie gereed is nie. Ons kan ons tyd neem, so daar is geen haas om van die begin af teen ’n hoë intensiteit en kontak te oefen nie,” sê Pieter Bergh, afrigter van die Bloemfonteiners.

“Ons speel nie vanjaar wedstryde nie, so dit gee ons die kans om ons kondisionering en planne vir volgende jaar gereed te kry. Ek glo die voorseisoen is die belangrikste deel van ’n span se voorbereiding.”

Mervyn Taylor, hoof van die Noordwes-Universiteit se rugbyinstituut, sê hulle beoog om vroeg in November terug op die oefenveld te wees. Die Universiteit van Johannesburg se afrigter, Dewey Swartbooi, sê hy wag vir dié universiteit om die groen lig te gee.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Maties  |  Tuks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.