Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Covid: ‘Spelers moet wyer as hulself dink’

Rugbyspelers se verantwoordelikheid om Covid-19-protokolle na te kom, strek baie wyer as net hulself en die spel, sê die Stormers se Springbok-heelagter, Warrick Gelant.

Die Springbok-heelagter Warrick Gelant was die Stormers se beste agterspeler in hul Superrugby Unlocked-veldtog. Foto: Gallo Images

“Ons het geen ander keuse nie as om goed gedissiplineerd te wees. Dit gaan oor baie meer as net die spel. Almal het familielede en sommige spelers bly by hul ouers. Jy skep dus nie net ’n risiko vir die spelers as jy ongedissiplineerd is nie, maar ook vir families. Hierdie virus is ’n harde werklikheid,” sê hy.

Families en ander geliefdes het ook die verantwoordelikheid omarm om die risiko vir die spelers te beperk, sê hy.

“Ons families weet dat ons ons sosiale kringe so klein as moontlik moet hou en versigtig moet optree. Dis baie moeilik om te beheer, maar ons kry dit goed reg en ons resultate spreek vanself,” sê Gelant.

Die Stormers se bestuur en nakoming van protokolle het gesorg dat hulle tot dusver in ’n posisie was om al hul wedstrydverpligtinge te kon nakom.

Ons poog om onsself gedissiplineerd te hou by ons unie sodat ons in ’n posisie is om elke naweek te kan speel.
Warrick Gelant

Nietemin moes hul wedstryd teen die Haaie, wat vir Saterdag geskeduleer was, afgelas word omdat daar positiewe gevalle onder die Durbaniete was.

Dit sal beteken dat die Stormers en Haaie elk twee ligapunte ontvang – iets wat albei as onbevredigend sal beskou omdat hierdie punte ook na die Currieker-reeks toe oorgedra gaan word.

Gelant sê die spelers kan nie kommentaar lewer oor die integriteit van toernooie nie.

“Die kompetisie is vooraf opgestel en die struktuur is deur die besluitnemers só uiteengesit. Covid-19 is ’n wêreldwye probleem en buite ons beheer. Ons poog om onsself gedissiplineerd te hou by ons unie sodat ons in ’n posisie is om elke naweek te kan speel,” sê hy.

“Ons het geweet sulke dinge gaan gebeur. Ons fokus sal na voorbereiding vir die Curriebeker-reeks en volgende rondes toe verskuif.”

Die Westelike Provinsie se eerste Curriebeker-wedstryd is op 28 November teen die Blou Bulle, vir wie Gelant die rug toegekeer het om sy rugby in die Kaap te kom speel.

Ondanks die feit dat die Bulle hul van die res onderskei het met hul spel in die Superrugby Unlocked-reeks, is Gelant nie vir ’n oomblik spyt dat hy die skuif gemaak het nie.

“Ek is baie gelukkig hier. Ons kry goeie afrigting,” sê hy.

“Ek en Dawie (Snyman, agterlynafrigter) praat dikwels oor hoe ons die volgende vlak kan bereik en meer afgerond kan wees,” sê hy.

“Ons het aanvanklik, veral van my kant af, baie ongedwonge foute gemaak, maar ons weet waarheen ons op pad is. Die groot ding is dat ons eerlik onder mekaar kan gesels oor waaraan ons kan werk.

Ons het spelers wat mekaar aanspreeklik hou.
Warrick Gelant

“Ons het spelers wat mekaar aanspreeklik hou. Dit is wat maak dat ons goeie rugby kan speel en gesond in die kop is.”

Die goeie rugby waarna Gelant verwys, is hoofsaaklik in die Stormers se laaste twee wedstryde teen Griekwas en die Cheetahs opgedis.

Hulle het afgeskop met ’n welverdiende, maar broekskeur-oorwinning oor die Leeus, was gelukkig teen die Pumas en is op Loftus deur die Bulle verneder.

“Ek het van meet af aan gesê dat ons prosesse vestig. Ons het aanvanklik lelik gewen en toe was daar daai nederlaag teen die Bulle. Mense het snaaks na ons gekyk wanneer daar na ’n ‘proses’ verwys is en wou vinnig uitslae sien. Maar ons was geduldig en dinge gebeur nou. Daar’s ’n opwaartse kurwe,” sê Gelant.

Hy meen die Bulle is tans “beslis die span om te klop”.

“Maar ons weet ook dat ons nie dieselfde span as twee weke gelede is nie,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.