Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Covid-groenlig, maar geld-rooilig kwel

’n Nuwe spoedbult is op SA Rugby se pad – een waarvoor hulle die sakrekenaars sal moet uithaal.

Ná die sportminister, Nathi Mthethwa, se vergunning Donderdag dat kontaksporte weer tot die speelveld kan terugkeer, werk die land se rugbybase oortyd om te bepaal of dit kommersieel sin maak om die Curriebekerreeks en ’n nasionale o.21-liga in bio-borrels aan te bied.

Jurie Roux en sy kollegas het nóg iets om snags oor wakker te lê.

Rapport het gister vyf van die agt Premierliga-spanne gekontak om vas te stel of hulle in ’n finansiële posisie is om vir hul eie koste in ’n bio-borrel te betaal. Geeneen van hulle kon ja antwoord nie.

Die onus rus daarom grootliks op SA Rugby, die uitsaaireus SuperSport en Carling Black Label, die nuwe Curriebeker-borg, om die miljoene rande vir die aanbied van die Curriebeker en die o.21-liga in bio-borrels te betaal.

Tebogo Motlanthe, waarnemende uitvoerende hoof van Safa, sokker se beheerliggaam in Suid-Afrika, het rugby onlangs ’n goeie aanduiding gegee van hoe duur dit is toe hy gesê het sokker se bio-borrel vir 32 spanne sal sowat R100 miljoen beloop.

Die bedrag wat die bio-borrel vir die agt Premierliga-spanne (Blou Bulle, Leeus, Haaie, Cheetahs, Pumas, Griekwas, Kings en Westelike Provinsie) en ses o.21-spanne (Blou Bulle, Cheetahs, Leeus, Haaie, Leeus en Luiperds) vir SA Rugby uit die sak sal jaag, is nog onbekend.

’n Ingeligte het die week aan Rapport gesê dit kan tot R80 miljoen vir die Curriebeker en o.21-liga beloop.

Ons het nie vir ’n bio-borrel begroot nie.

George Stainton, kommersiële hoof van die Pumas, het onlangs aan IOL bevestig sy unie het ’n volledige voorlegging aan SA Rugby gestuur vir die aanbied van ’n bio-borrel in Mbombela.

Daarvolgens sal dit tussen R30 miljoen en R65 miljoen beloop, afhangende of die Curriebeker oor ’n enkel- of dubbelronde beslis word. Die aanbied van die o.21-liga en verdere protokolle, soos deur Mthethwa-hulle vereis word, sal dit nog duurder maak.

“Ons het nie vir ’n bio-borrel begroot nie,” het een van die Premierliga-spanne se uitvoerende hoofde gister aan Rapport gesê. “Ons sal eksterne befondsing moet kry om daarvoor te betaal. Ons is wel in ’n posisie om ons spanne self te laat voorberei en in die aanvanklike kompetisiestruktuur (voor die aankoms van Covid-19) te laat speel. Met die bio-borrel sal ons ekstra geld iewers moet kry.”

Nog ’n grootbaas van een van die Curriebeker-spanne is onseker wat die presiese koste van ’n bio-borrel vir elke span inhou.

“Die franchises (en dis al agt) gaan beslis nie geld hê om hul eie koste te dra nie,” het hy gesê.

“Daar is geweldige druk op al die franchises se kontantvloei net om salarisse te kan betaal. Ek kan dus nie sien dat enige van die franchises genoeg finansiering vir die bio-borrel sal hê nie.”

Dit is reeds moeilik om kop bo water te hou, maar ons spanborge vereis dat daar vanjaar Curriebekerrugby gespeel word.

Nog ’n uitvoerende hoof van een van die agt unies hoop om besonderhede te kry oor die verblyfkoste, hoeveel spelers elke span in die geval van ’n bio-borrel mag kies en hoeveel keer spanne vir die virus getoets moet word. Toetsing kan tot R60 000 per span per keer beloop.

“Dit is reeds moeilik om kop bo water te hou, maar ons spanborge vereis dat daar vanjaar Curriebekerrugby gespeel word,” het hy gesê.

In sekere gevalle is daar borge wat daarop aandring dat hulle ook Superrugby moet speel, wat bykomende druk op SA Rugby se besluitnemers plaas. Dit kan beteken dat SA Rugby dalk twee bio-borrels sal moet skep – een waarin die Super-spanne mekaar om Superrugby- én Curriebeker-punte kan pak, en ’n ander waarin die res die CB-kompetisie kan afskop.

Die Curriebeker is SA Rugby se tweede grootste bron van inkomste deur TV-regte. Die o.21-liga sal geen inkomste genereer nie.

Die aanvanklike plan was dat die Curriebeker op 29 Augustus begin. Dit is nou onwaarskynlik dat die Premierliga voor 12 September sal afskop – mits SA Rugby die miljoene vir die aanbied daarvoor vind.

Die Rugbykampioenskap, wat vir 7 November tot 12 Desember in Nieu-Seeland geskeduleer is, is SA Rugby se grootste bron van inkomste.

Vir deelname aan die Rugbykampioenskap is een van die nuwe Bok-afrigter, Jacques Nienaber, se versoeke dat sy plaaslike spelers minstens in ses Curriebekerwedstryde voor dan speel. Hy stel ook verskeie ander eise.

’n Onberispelike bron het die week aan Rapport gesê deelname aan die Rugbykampioenskap hou yslike kommersiële voordele vir SA Rugby in.

Neem die Bokke nie daaraan deel nie, kan Suid-Afrikaanse rugby in Desember met groot geldelike probleme sit.

Meer oor:  Rugbyunies  |  Bio-Borrel  |  Finansiële Impak  |  Sa Rugby  |  Covid-19  |  Curriebeker  |  Saru  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.