SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Toernooi gaan sink as SA Rugby nie borg kry
Borglose Cravenweek in die weegskaal

Suid-Afrikaanse rugby kan deur ’n nuwe geldskok geruk word. Die Cravenweek se voortbestaan is in die gedrang, met volgende jaar se toernooi wat nie sal plaasvind as SA Rugby nie ’n borg vir die aanbied van die skolerugbyweek vind nie.

Sonder borge sal die Cravenweek vir laerskole ook nie volgende jaar gespeel word nie, terwyl al SA Rugby se ander jeugweke ook “toegemaak” sal word.

Siya Kolisi
NOU: Siya Kolisi, kaptein van die Springbokke. Foto: Getty Images
Kolisi
TOE: Kolisi in aksie vir die OP se Cravenweek-span in 2009.

“Dit is nie ons wens nie, maar dit is die moeilike finansiële werklikheid in die huidige ekonomie,” het ’n woordvoerder van SA Rugby aan Rapport gesê.

“Ons praat met ’n paar ondernemings en is vol vertroue om ’n vennoot vir die jeugweke te bevestig.”

SA Rugby het geen voorsiening vir die aanbied van die Cravenweke of jeugweke – soos die Akademieweek, Grant Khomo-week vir o.16’s, LSEN-week, die o.17’s se nasionale sewestoernooi, die o.16’s en o.18’s se nasionale weke vir meisies of Iqhawe-week – in sy voorlopige begroting gemaak nie.

Dít tot die ontsteltenis van verskeie verteenwoordigers van die land se 14 unies wat in die afgelope twee weke SA Rugby se twee begrotingvergaderings vir onderskeidelik die suidelike en noordelike unies bygewoon het en agterna met Rapport daaroor gepraat het. Sekere unies is woedend en het aangedui dat hulle reeds hul klere en toerusting vir 2020 bestel het. Ander het selfs al borge gewerf.

SA Rugby bevind hom in ’n geldelike verknorsing ten opsigte van sy jeugprogramme nadat Coca-Cola, wat sedert 1984 by die beheerliggaam se jeugweke betrokke was, hom einde 2018 as die titelborg onttrek het. Die borgskap was vir sowat R10 miljoen per jaar.

Ná hul onttrekking moes SA Rugby vanjaar self pa staan vir die uitgawes van die aanbied van die jeugweke, wat miljoene rande beloop het.

SA Rugby het al so ’n jaar of twee gelede vanweë strenger finansiële beheer besluit dat hy vir geen uitgawe gaan begroot tensy ’n borg daarvoor reeds beklink is nie.

Die SA Rugby-base het hul vingers in die verlede al ’n hele paar keer erg verbrand deur net te hoop ’n borg sal na vore tree.

SA Rugby sal hoop dat die Bokke se sukses in Japan hulle met onderhandelinge sal help om ’n titelborg vir die jeugweke te kry.

Die positiewe invloed wat die verowering van die Wêreldbeker geldelik vir SA Rugby inhou, sal eers volgende jaar groter geldelike vryheid aan die beheerliggaam bied.

Asics, een van sy borge, het al sy borgskap tot 2023 verleng.

“Ek dink ons kon sien wat die wen van die Wêreldbeker vir gewone Suid-Afrikaners beteken het, maar net so is dit ’n wonderlike ding vir SA Rugby, wat ons op vele vlakke ’n groot hupstoot kan gee – van onderhandelinge met borge en meer kinders wat begin rugby speel tot meer toeskouers en rugbykykers op TV,” het die woordvoerder gesê.

Die o.18-Craven- en Akademieweek sal in 2020 die eerste keer sedert 2012 in Port Elizabeth gehou word. Sou daar nie borge gevind word nie, sal onder meer gastehuise, hotelle en restaurante daaronder ly as die seuns, spanbesture en families nie in die Baai saamtrek nie.

Die o.13-Cravenweek en o.16-Grant Khomo-week sal volgende jaar by Jeppe High School for Boys in Johannesburg gehou word.

Rapport kon nie vasstel wanneer SA Rugby se afsnydatum vir die werf van borge vir die aanbied van die Cravenweek is nie.

Meer oor:  Sa Rugby  |  Cravenweek  |  Skolerugbyweek  |  Suid-Afrikaanse Rugby  |  Voortbestaan  |  Nuwe Geldskok  |  Borg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.