Ná twee wedstryde in die Superrugby Aotearoa-reeks is die Crusaders steeds onoorwonne nadat hulle die Hurricanes behoorlik ore aangesit het.

Die Crusaders se Richie Mo’unga suiker deur vir sy drie. Foto: Getty Images
Die Crusaders het vyf drieë Sondag in Christchurch gedruk om met 33-16 te wen.
Reeds teen rustyd was die wenspan gerieflik met 26-6 voor.
Met die oorwinning het die Crusaders, die verdedigende kampioen, wraak geneem vir die nederlaag wat hulle in 2020 teen die einste Hurricanes gely het.
Een van die redes hoekom die Hurricanes verloor het, is omdat hulle vier lynstane verloor en ook 20 duikslae verbrou het.
Maar ’n geelkaart het die Hurricanes behoorlik duur te staan gekom.
Een van hul losvoorspelers, Ardie Savea, is in die eerste helfte koelkas toe gestuur. Die Crusaders het dit behoorlik uitgebuit deur drie drieë te druk – wat ook almal verdoel is – in die tyd wat Savea van die veld was. – Sportredaksie, Reuters
• Puntemakers:
Crusaders 33 (26): Drieë: Codie Taylor (2), Richie Mo’unga, Ethan Blackadder, Scott Barrett. Doelskoppe: Mo’unga (4).
Hurricanes 16 (6): Drieë: Ricky Riccitelli, Peter Umaga-Jensen. Strafdoele: Jordie Barrett (2).